News

Seuntjie drink remvloeistof – behandeling glo geweier

’n Peuter en sy ma is gister vir meer as ses ure noodbehandeling geweier, deur die Middelburg Provinsiale Hospitaal, nadat die seuntjie per ongeluk remvloeistof gedrink het.

Me. Tracy-Lee Vorster vertel dat haar seuntjie, Paul (een jaar en tien maande oud) gistermiddag net voor 16:00 die remvloeistof ingeneem het, terwyl hy saam met sy pa in die motorhuis besig was.

“Ek is die middag vroeër huistoe, omdat ek nie lekker gevoel het nie en het vir Paul in sy pa se toesig gelos. Toe hy vir ’n oomblik sy rug gedraai het, het Paul die vloeistof gedrink.

“Ons het geweet daar was nie baie vloeistof in die botteltjie nie, maar kon nie sê hoeveel Paul ingekry het nie. Ons het ook nie geweet wat dit aan hom sal doen nie, en ons het dadelik hospitaal toe gejaag.”

Tracy sê toe sy by die ongevalle eenheid om hulp vra, was die verpleegster nie net onbeskof nie, maar het ook aanvanklik gedink dat sy self die vloeistof gedrink het.

“Van die begin af was hulle onbehulpsaam, en hulle wou vir my naarpille in die hand stop en huistoe stuur.”

Nadat Tracy dit duidelik gemaak het dat haar seuntjie die remvloeistof gedrink het, het hulle vir haar gesê sy moet wag.

“Die verpleegster het vir my gesê dis standaard prosedure dat hulle ons nie mag help tot daar ’n polisieverslag oopgemaak is nie, en toe ek vra hoekom toe kyk sy my net op en af.”

Terwyl Tracy gevrees het vir haar kind se lewe, is sy gelos om met Paul in haar arms te sit en wag.

“Na twee en ’n half ure se wag, het ek uiteindelik self ’n dokter genader, wat gesê het dat my seun vir X-strale moet gaan om te bepaal of daar skade aan sy longe is, maar ek moes steeds wag.”

Tracy het na ’n halfuur opgestaan en is self met Paul radiologie toe, waar sy baie vinnig en vriendelik gehelp is.

“Ek is toe met Paul se X-strale terug ongevalle toe en moes weer self ’n dokter opspoor, by wie ek gevra het dat hy net moet kyk of daar skade is. Ek wou weet of ek Paul darem water kon gee, want ons wag al vir ses ure.”

Sy sê dat die dokter na die X-strale gekyk het, waarop hy gesê het dat daar geen skade is nie, “hy het ook gesê dat Paul se vitals reg lyk, omdat hy toe in die gang op en af was.”

Die dokter, wat nog baie jonk gelyk het, het ’n meer senior dokter gebel, wat voorgestel het dat Paul vir waarneming opgeneem word, maar dat Tracy gladnie mag by wees nie.

“Dit was toe al 21:00 en ek wou hom beslis nie alleen by die hospitaal los nie.”

•Klein Paul het intussen volkome herstel.

• Die Departement van Gesondheid is gisteraand en weer vanoggend genader vir kommentaar.

Hulle terugvoer gisteraand aan die Middelburg Observer was, was dat Paul paraffien ingeneem het en dat die hoof uitvoerende beampte van Middelburg Hospitaal dadelik gehelp het.

Tracy het egter bevestig dat hy remvloeistof ingeneem het en dat die hoof uitvoerende beampte nooit ingegryp het nie.

• Media navrae wat vandag aan die departement gestuur is, is nie voor publikasie beantwoord nie.

 
Back to top button