Vreemde diere wat Middelburg se strate bewandel is natuulik niks snaaks nie.
As seekoeie nie in ons strate ronddwaal nie, dan val ’n groep aardwolwe bakkies aan of kees se kind klouter oor heinings.
Net ’n paar weke nadat Deon Cornelius Aerorand se bobbejaan geflous het met ’n hok vol lekker eetgoed, is daar ’n kees in Kanonkop los.
DA raadslid, Johann Dyason, het bevestig dat verskeie inwoners die bobbejaan gewaar het.
Die bobbejaan is eers in Seringstraat gesien, voordat hy by twee erwe in Elandstraat in is.
Volgens raadslid Dyason is die bobbejaan minute gelede op die N11 (Loskoppad) gesien, en is hy waarskynlik op pad terug bos toe, waar hy nie meer ’n gevaar vir homself, honde of mense sal wees nie.
Indien hy weer opduik kan inwoners rdl. Dyason skakel by 083 241 3153, of die Middelburg Dierebeskermingsvereninging by 013 246 1201.
•Die Aerorand bobbejaan is sonder probleme vrygelaat in die natuur.
