Inwoners verklaar oorlog – Groenkol as sedert 14 Januarie sonder water
Inwoners van Groenkol het oorlog met die munisipaliteit verklaar, nadat tientalle huishoudings al sedert 14 Januarie sonder ’n druppel water sit.

Selfs die DA wyksraadslid, San-Mari Wait, het nie water nie en boer by die munisipaliteit oor die probleem.
Gister is daar ’n groot ondergrondse lek op die area se hoofpyplyn ontdek.
Omdat die bars ondergronds was, moes daar lank gesoek word vir die lekkasie.
Me Wait se egter dat daar ander lekkasies op dieselfde pyplyding moet wees, omdat beurtkrag alleen nie die area so lank sonder water sal laat nie.
Beurtkrag het wel ’n verdere negatiewe uitwerking op die skielike droogte.
Middelburg is vir twee ure af, maar sekere areas van Aerorand, vanwaar Groenkol se water gepomp word, is gewoonlik twee ure voor Middelburg af, “dus is dit vier ure se pompverlies wat daartoe bydra dat reservoirs nie voor die volgende beurtkragskedule voltap nie”.
Die water wat wel die reservoirs bereik, word vinnig deur inwoners van die hoërliggende areas gebruik, sodra dit beskikbaar word.
“Dit los laerliggende inwoners, soos ek, sonder water,” sê me. Wait.
Die munisipaliteit soek tans na ander lekkasies op die Oranjestraat pyplyn, wat ook ondergronds moet wees, omdat geen bogrondse lekkasies nog gevind is nie.
Intussen is daar besluit om die hele pyplyn, van meer as 750 meter lank, heeltemal te vervang.
“Die werk gaan egter nie in ’n dag of twee gedoen kan word nie,” sê me. Wait.
Tydens ’n besoek aan die munisipaliteit gister het me. Wait gesê dat bestuur haar meegedeel het dat die area nog sowat twee weke se waterdroogtes te wagte kan wees.
Sodra die pyp vervang is, behoort die probleem iets van die verlede te wees.
Sy het die afgelope twee weke daagliks klagtes by die munisipaliteit namens inwoners ingedien.
“Ek verstaan hul frustrasies want ek gaan self daardeur,” grom sy.
Volgens me. Sarah-Ann Beetge het hulle nog nie ’n druppel water sedert 14 Januarie by hul huis in Kogelstraat gehad nie.
Die NG Suidkerk oorkant me. Beetge se huis het ook gister water gehad, maar hulle oorkant die pad nie.
Haar man, Gert, het al verskeie maal by die munisipaliteit gekla en nou ’n skriftelike klagte aan munisipale bestuurder, mnr. Mandla Mnguni, gerig.
In die brief skryf hy dat die munisipaliteit inwoners faal omdat gebeurlikheidsplanne, en ondersteuning ontbreek.
“Daar is eenvoudig geen hulp van die munisipaliteit nie, in die verlede het ons gereeld boodskappe gekry oor probleme en wat daaraan gedoen word, maar dié het ook opgedroog”.
Me. Wait sê die vervanging van die pyplyding het reeds afgeskop en sy versoek dat hoogliggende inwoners se waterverbruik verminder word, sodat ander inwoners ook voordeel kan trek.
Die Beetges was nog nooit so gelukkig met hul swembad as nou nie, “maar wat van die arme mense daarsonder, dis onaanvaarbaar,” sê Sarah-Ann en las by “die munisipaliteit kan gerus waterpunte opstel vir inwoners om water te gaan tap”.
Inwoners met boorgate kan diegene sonder water ook behulpsaam wees sê me. Wait.
