Nog ’n vrou is met vuiste toegetakel.
Me. Marietjie Britz sê sy het met haar rug gestaan na die aggressiewe man, toe hy op haar afstorm om haar met die koevoet te slaan.
“Dit was regtig totale chaos hier!”
Sy onthou dat daar R5 te min was van die geld wat hulle die man moes betaal vir die ruk wat hy gewerk het en dat sy aangebied om dit uit haar handsak te haal.
Op daardie oomblik het sy met haar rug na hom gestaan.
“Die mense wat gehelp het, sê hy het van agter af op my afgestorm en het hulle van alle kante af gehardloop om te kom help.”
Die dagloner is gisteroggend in Laverstraat opgelaai en dit het aanvanklik goed gegaan terwyl hy met los werkies gehelp het.
Op ’n stadium het een van die huurders agtergekom dat hy nie meer op sy pos is nie en het me. Britz gevra of iemand dalk weet waar hy is.
Hulle het aangeneem hy is badkamer toe en hy het na sowat ’n uur en ’n half weer tevoorskyn gekom.
Hy het direk na me. Britz toe geloop en uitdagend gesê: “Jy soek my!”
Me. Britz het verduidelik dat hulle net gewonder het waar hy is.
Die man het meer aggressief geraak en geskree: “mag ek nie toilet toe gaan nie?”
Me. Britz het kalm vir hom gesê dat hy beslis mag toilet toe gaan.
Hy het egter harder geskree: “jy het ’n attitude! Gee my geld! Ek gaan fo..f!”
Me. Britz het besluit dat dit beter sal wees as die aggresiewe man gaan en hulle het, omdat dit nog voor 12 was, besluit om hom die helfte van sy loon te gee.
Sy het nie dadelik kontant aan haar gehad nie en een van die ander vroue het gesê sy sal gou in haar kar die geld gaan haal.
Dit is in daardie tyd wat hy die koevoet gegryp, op haar afgestorm, in ’n stoeiery met ander werkers betrokke geraak het en ’n vrou met die vuis geslaan het.
“Ek het nog nooit in my lewe soveel haat in iemand se gesig gesien nie!”
Die personeel het om hulp geroep en mnr. Johan Janse van Rensburg en me. Liezl Prinsloo (Middelburg Stasie) het hulle soontoe gehaas.
Mnr. Janse van Rensburg het ’n kniebesering en kon nie die aanvaller agterna sit nie.
Me. Prinsloo het egter agter hom aangehardloop, maar hy het onder haar uit gehardloop en haar erg gevloek, toe hy al ’n ent weg was.
• Me. Britz sê sy weet dat almal afgeraai word om werksoekers op te laai in Laverstraat.
“Ons gaan haal gereeld vir Andries Zwane daar. Hy is betroubaar en het ons gister ook gehelp. Ons het nog net volgende week werk vir hom en dan is hy weer terug op straat om werk te soek. Ek hoop hy sal gou ander werk kry!
