Op die spoor van die stasie se spook
Phoenix Paranormal South Africa is op die spoor van die stasie se spook!
Phoenix was verlede jaar hier toe hulle na die spook van die Langkloof plaashuis gesoek het.
’n Stem het toe die naam “Claire” duidelik tydens hul opnames gesê.
Een lid van die groep het ook iemand hoor lag.
Mnr. Johan Janse van Rensburg van die Middelburg Stasie, het bevestig dat Phoenix Paranormal SA op 10 Februarie by die Middelburg Stasie gaan kom soek na die “Stasie Spook”, wat ook bekend is as “Oom Bokkie”.
Verskeie mense wat in die aande by die kroeggedeelte gekuier het, het ’n man met ’n bokkiebaard gesien.
’n Ander keer moes hulle ’n vergadering skuif, omdat iemand ongemaklik gevoel het in een van die kantore by die stasie.
Mnr. Janse van Rensburg sê hy weet daar is jare gelede ’n man vermoor en iemand het eenkeer tussen die spore geval en gesterf. Daar was ook ’n selfmoord.
Daar is ook ’n “storie” van ’n kopbeen wat by die stasie begrawe is.
Hy sou graag meer oor die voorvalle wou weet of as iemand dalk al die spook by die stasie gesien het, kan hy gebel word by 063 657 4876.
• Die Phoenix span wil op 10 Februarie ook een of twee ander huise of besighede besoek wat paranormale aktiwiteite ervaar.
Persone wat graag wil hê die span moet kom bewys daar is spoke, kan Charmaine bel of WhatsApp by 081 828 3111.
