Willie Bester se liggaam nog nie uitgeken, opgeëis nie
Mnr. Willie Bester wat twee weke gelede dood is in sy brandende winkel, die Horlosie Kliniek, se liggaam is steeds nie uitgeken of opgeëis nie.
Volgens regulasies sal die staat nog twee weke wag, voordat ’n aansoek gebring sal word vir Bester om as armlastige deur die staat begrawe te word.
Liggame word net ’n maand gehou vir uitkenning, voordat munisipale toestemming verkry word vir ’n staatsgraf.
Die grafte word genommer indien naasbestaandes na die spertyd wel navraag doen.
Mnr. Bester se twee seuns het reeds Middelburg toe gereis waar hulle tans besig is om sy woonstel se inhoud uit te sorteer.
Die seuns het aangedui dat hulle wel ’n roudiens wil hou, maar dalk nie in Middelburg nie.
Die seuns is glo bang dat indien die roudiens plaaslik gehou word, dit moontlik ontwrig kan word.
Die uitkenning sal nie ’n maklike taak wees nie.
Mnr. Bester het onherkenbaar verkool in die brand by sy besigheid.
Jud’sies eienaars Frikkie en Judy-may Kapp, wat deur Bester met drie petrolbomme bestook, en ook op geskiet is, het die aanval wonderbaarlik sonder enige beserings oorleef.
Brandskade is egter ook aan hul winkel, as ook Azalea Bloemiste en die tandartspraktyk langs Bester se Horlosie Kliniek aangerig.
Van mnr. Bester se eiendom, soos klere en sy bed, sal vir liefdadigheid geskenk word.
Intussen klop kliënte ook steeds in hul hordes by sy landheer Elaine Putter aan vir die terugbesorging van waardevolle horlosies soos Rolex polshorlosies, staanhorlosies en antieke stukke.
Bester het alles uit sy winkel verwyder en tuis gestoor voor die fyn beplande aanval.
Mnr. André van Wyk van Roseleigh Begrafnisdienste het aangebied om Bester se familie behulpsaam te wees met begrafnisreëlings.
Plaaslike juweliers, met wie Bester nou saamgewerk het met horlosie herstellings vir kliënte, het reeds aangedui dat hulle beslis ’n diens vir hom sal bywoon.
Bester se regsverteenwoordiger en jarelange vriend het ook aangebied om ’n diens vir Bester te lei.
