Groenkol het nou water, plek-plek is krane egter nog droog
Die watertekort op Middelburg was nog nooit so ernstig soos nou nie, met die munisipaliteit wat Saterdag heeldag bontgestaan het om veral Groenkol inwoners van water te voorsien.
Die area het sedert 14 Januarie feitlik geen water nie en wyksraadslid San-Mari Wait sê dat veral die middedorp, soos doktersspreekkamers in OR Tambostraat, ’n krisityd beleef het.
Watertoevoer is egter Sondag na geaffekteerde areas herstel en me. Wait sê dat die waterdruk nou weer terug na normaal toe is, met sekere areas wat nog effense vuil water verduur.
“Met pype soos die hoofpyplyding waarop daar ’n reuselek was, word die water maar effens vuil voordat dit oral mooi deurgeloop het,” verduidelik sy.
Me. Wait self het daelank nie water gehad nie en sê sy verstaan inwoners se frustrasies.
Sy het verlede Donderdag reeds versoeke ingedien dat watertenks deur die munisipaliteit beskikbaar gestel word.
Saterdag is verskeie watertenkwaens in geaffekteerde areas ontplooi.
Me. Wait sê dat sekere inwoners egter vervoerprobleme gehad het en nie water kon gaan haal nie.
Daar was egter areas in die middedorp wat vanoggend steeds nie water gehad het nie.
Me. Wait sê egter sodra die reservoirs volgetap is, sal almal weer water hê.
Die pypleiding wat die oorsaak van die watertekorte in Groenkol was, word nou vervang.
Me. Wait sê meer as 750 meter se pype moet vervang word, wat wel hier en daar watertekorte sal veroorsaak oor die volgende twee weke, tot die projek voltooi is.
