News

Vir tweede aand klap daar skote in die nag

Net ’n dag nadat mense gepraat het van ’n “oorlog” met grootkaliber- en handwapens, is daar gisteraand weer drie skote in Kanonkop gehoor.

Die vermoede bestaan dat dit jong mans was wat, wat ’n nuwe wapen, wat lyk soos ’n regte 9mm pistool afgevuur het. Dié tipe wapen skiet fopkoeëls, maar klap net so hard soos ’n regte 9mm pistool.

Mnr. Arthur Hill (Dagpatrollie) sê een van hul lede het omstreeks 20:00 gesê hulle het drie skote gehoor in Tambotiestraat.
Hy het dadelik ander lede hoër op in die straat gekontak en gevra of hulle dit gehoor het, maar hulle het nie.

Daarna het hy op die Tambotiestraatgroep self ook gevra of ander mense dit gehoor het en het ten minste vier mense het instemmend geantwoord.

“Waar ek eintlik eers om 21:00 sou begin met patrollies in beurtkrag, het ek besluit om maar vroeër te begin met patrollie om te kyk of ek iets kry.”
Hy het op en af gery in Tambotiestraat, asook al die aangrensende strate, maar kon niks verdags kry nie.

Mnr. Hill het gery na een van die mense toe wat gesê het hulle het die skote gehoor, en besef hulle bly naby Proteastraat, wat aan die veld en die rivier grens.

Dit was al na 21:00 en pikdonker toe hy oor die laagwaterbruggie by die Klein Olifantsrivier ry.

Op die selfde oomblik het hy gesien dat daar ’n ent teen die rivier op ’n voertuig staan en hy het hul selfoonliggies opgemerk.
Mnr. Hill het na die groep, drie mans en ’n vrou, wat buite hul voertuig gestaan het, gery.

“Die oomblik toe ek daar stop, het ek die wapen op die enjinkap sien lê.

Mnr. Hill is meer as een taal magtig “en ek het in hulle taal uitgevra oor die wapen. Hulle het dadelik in Engels gesê: ‘it’s a toy!”
Hy het besef dit is ’n wapen wat fopkoeëls skiet, wat weens die plof-aksie dieselfde geluid maak as ’n 9mm.

Om seker te maak alles is veilig, het hy die wapen se magasyn nagegaan en gesien dat daar net vyf koeëls in is.

“Daardie wapens het plek vir 15 patrone. Ek het rondgekyk vir doppies, want dié wapen skiet ook sy doppies uit, maar dit was te donker om enigiets te sien. Ek het wel gevra of hulle hom afgevuur het en hulle het vinnig ontkennend geantwoord.”

Lees ook:

Oor en weer skietery klink soos klein oorloggie

Mnr. Hill het hulle gevra of hy ’n foto van die wapen kan neem, om die mense in die omgewing gerus te stel.
Hulle het egter aggressief op die verdediging gegaan en nee gesê met die woorde: “no, we know our rights!”

Met die terugstap na sy kar toe, het hy deur die venster van die ander kar opgemerk dat daar ’n splinternuwe boks agter op die sitplek lê, waaruit die pistool kom.

“Ek het net daar gewonder of hulle nie dalk daardie selfde dag die wapen gekoop het en ’n paar skote afgevuur het, om te kyk wat die wapen kan doen en hoe hard hy klap nie. Ek kan dit egter nie bewys nie.”

• ’n Inwoner van Maximstraat (Dennesig) het ook laat weet dat hulle dieselfde tyd as die mense in Tambotiestraat die skote gehoor het.

Mnr. Hill wonder of die twee verband hou, aangesien Tambotiestraat baie ver van Maximstraat af geleë is en hy nie kan glo dat die klank só ver kon getrek het nie.

• Die vorige nag het talle inwoners laat weet dat hulle skote gehoor het wat van die Stoffbergpad se rigting gekom het.

Handwapens en grootkaliberwapens is gehoor en dit het soos ’n oor en weer skietery geklink. Daar is egter geen sake by die polisie aangemeld nie.

• Mense wat wel die polisievoertuie ’n rukkie na die skietery by die Renosterstraatkruising op die Stoffbergpad gesien het, het gedink dit het iets met die skietery te doen.

Daar is egter later verneem dat die polisie onbewus was van die skote en besig was met hul eie operasie, nadat hulle gehoor het dat ’n geroofde voertuig op pad is Middelburg toe.

Die voertuig, wat in Augustus in Jeppe (Limpopo) geroof is, is gestop, waarna twee insittendes gearresteer en ’n wapen in die voertuig gekry is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button