News

Vrou teen kop geslaan, kinders gedreig in N12 kaping

Die vrou wat die slagoffer was van die kaping oor die naweek, het na vore gekom en hul verhaal vertel.

“Ek moet vertel wat gebeur het om mense te waarsku!” het me. Elani Wilkens pas gesê.

Sy het behandeling gekry in die Life Midmed Hospitaal vir ’n kopwond, asook ’n sny aan haar oor, soos sy met die kapers geveg het.

“Op ’n stadium was hulle sewe of agt in ons kar. Hulle het bo-oor ons geklim.”

Sy het Vrydag laat weggekom in Klerksdorp op pad Middelburg toe, waar haar seun as deel van Hoërskool Wesvalia aan die sportdag by Hoërskool Middelburg sou deelneem.

Me. Wilkens was saam met haar seun, Reeg (14), haar dogter, Lené (15) en Reeg se vriend, RJ in die kar.

Voor hulle gery het, het haar vriendin haar gedwing om ’n “WhatsApp Live Location” vir haar te stuur.

Hulle het gestop by die Total Vulstasie Noord op die N12 (naby Delmas), iets geëet en weer gery.

Me. Wilkens het haar beursie in die badkamer vergeet en hulle was al ’n ent weg, toe die vulstasie bel om te sê sy het die beursie vergeet. Die vrou wat die beursie gekry het, het haar ook gekontak.

Gedagtig daaraan dat hulle tolhekke op die pad gaan kry, het sy besluit om om te draai en die beursie te gaan haal.

“Ek ry toe terug, ’n bietjie vinniger as die spoedgrens om die beursie te kry om weer terug te gaan Middelburg toe.”

Net na die Total Suid vulstasie “by die N3, voor die fly-over, kom daar ‘n kar met blou ligte wat wys ek moet aftrek. Ek het vermoed dis oor die spoed wat ek gery het en ek trek toe af.”

Me. Wilkens het gestop en het ‘n man in vol polisie-uniform haar vriendelik gegroet en gevra of alles reg is by hulle.

“Hy het ’n paar algemene vrae gevra en my venster was half oop.”
Sy het opgemerk dat daar ’n ander persoon is aan die linkerkant wat na die lisensieskyf kyk.

Terwyl sy vir hom kyk, het die “polisieman” aan haar kant sy hand deur die venster gedruk en die deur oopgesluit.

“Ek het probeer wegry, maar die een het my ratte in neutraal gehou, terwyl die ander een my aanhoudend teen die kop geslaan het en gesê het ek moet oorskuif. Die gevoel van oorgee was vreesaanjaend.”

Haar en die kinders se hande is met kabelbinders vasgemaak en is is hulle aangesê om plat te lê.

As sy probeer opkom het om te kyk waar hulle is, is sy gedreig dat hulle die kinders gaan skiet.

Sy het agtergekom hulle ry op ’n grondpad, waarop daar gestop en drie uitgeklim het en omtrent sewe weer by hulle ingeklim het.

“Jou kop hol weg met jou op daai stadium. Jy mag nie praat nie.”

Daar is weer met hulle gery en is sy en die kinders die veld ingevat.

“Ons moes daar lê in die gras en stil wees.”

Daarna het die groep hulle gevra vir die kodes van hul selfone en iPads.

“Tien minute later het ek gehoor hoe ’n kar stop, waar ek ‘n vrou en man hoor pleit en skree het. Dit was ’n gesin met twee klein kindertjies, ’n seuntjie en ’n dogtertjie.”

Me. Wilkens sê die kapers se gedrag het heeltemal verander toe hulle in die veld lê.

“Dit het my rustigheid gegee. Hulle het klere uit ons tasse gehaal en almal toegegooi. Ek het baie gehoes en hulle het my water gegee. Ek dink hulle het ons daar gehou om tyd te wen om weg te kom met die karre.”

Kort daarna het hulle ’n kar gehoor wat sy toeter blaas en ’n vrou wat roep.

“Toe ek weer om my kyk is die kapers weg. Dit was toe die suster van die man wat langs ons lê. Ons het nie geweet nie of ons kan skree nie.”

Die volgende oomblik hoor ek my naam en ons almal skree: “hier is ons! hier is ons! Dankie Here dat hulle ons gekry het!”

Me. Wilkens glo vas dat die Heilige Gees haar vriendin, wat hulle gevolg het met WhatsApp, gelei het.

“Sy het gesien ons is van ons roete af. Hulle het ons gekry, ons is veilig.”

“Die drie manne het ons so mooi opgepas. Anton, Jacques en Hein ons waardeer julle baie en is baie dankbaar dat julle gery het om ons te probeer opspoor.”

Me. Wilkens het ’n blou oog en steke in haar oor opgedoen weens die houe teen haar kop en die kinders het muskietbyte en seer polse oorgehou van die kabelbinders.

Nadat hulle verklarings gaan aflê het by die Delmas Polisiestasie, het hulle die beursie gaan haal met hul kaarte in, sodat sy Life Midmed Hospitaal toe kon gaan.

“Hierdie was ’n traumatiese ervaring. Maar hulle sal nie ons vreugde steel nie. Ons sal aanbeweeg. Persoonlike groei sal plaasvind. Ons kyk nou weer uit ‘n ander oog na dinge.”

Me. Wilkens sê alle aanduidings is dat die kapers hulle al by die vulstasie “gemerk” het.

Haar raad om kapings te voorkom is:

* Moet nooit jou kar in parkeer sit nie.

* Hou jou venster klein oop, net millimeters.

* Ry tot by naaste vulstasie of polisiekantoor

* Gebruik WhatsApp se Live Location of 360 Live Toep (App).

* Stuur vir ‘n familielid of vriend jou mediese kaart en lisensie sodat jy vinniger gehelp kan word as jou foon gesteel is.

* Ry in konvooi indien moontlik

Me. Wilkens wil graag almal bedank vir hul boodskappe, omgee en liefde.

“Ons is geseënd met almal se bystand.”

* Die volgende dag is daar talle kabelbinders gekry in die area waar hulle in die veld gelê het.
Me. Wilkens sê dit dui daarop dat daar al verskeie mense gekaap en daar aangehou is.

* Terwyl hulle by die Delmas Polisiestasie was, het nog mense ingekom wat van ‘n trok gekaap is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button