Jennifer glo “Liewe Jesus sal vir haar ’n nuwe fiets bring”
Die agtjarige Jennifer de Beer het geglo “Liewe Jesus” sal vir haar ’n nuwe fiets bring.

Haar kinderlike geloof is bewaarheid toe jong sakeman, Jaco Brits, Woensdagaand vir haar ’n blinknuwe fiets afgelewer het.
Daar was trane toe die nuwe fiets in Granaatstraat 9 gesteel is en daar is oral gevra dat daar uitgekyk moet wees vir die fiets.
“Jennifer het stiltetyd gaan hou en vir my gesê dat Liewe Jesus uitkoms sal bring,” het haar pa, Gert, gesê.
Lees ook:
Kort nadat ’n berig op die Middelburg Observer se webtuiste verskyn het, het mense se harte en hande oopgegaan.
“Daar het selfs mense sover as Dubai aangebied om by te dra vir ’n fiets vir Jennifer. Ons is so blessed.”
• Die eerste persoon wat Jennifer se hart wou blymaak, was mnr. Jaco Brits. Hy het dadelik ’n nuwe fiets vir haar gekoop en gaan aflaai.
“Jesus werk in wonderlike maniere. Daardie dogtertjie en haar sussie het die mooiste maniere. Dit breek my hart om te sien dat kinders, wat dié goed nie verdien nie, skade moet ly as gevolg van slegte mense. Maar soos sy vir Jesus ’n oplossing gevra het, het Hy my dadelik gestuur en daarvoor is ek so dankbaar,” het mnr. Brits gesê.
• Daar is tans steeds mense wat bydraes wil lewer om vir Jennifer ’n nuwe fiets te koop.