’n Hawelose is eers uit sy benewelde toestand gewek toe kragopwekkerdiewe met hul buit gevlug het.
Mid Alarms het die video beskikbaar gestel om te wys hoe vinnig die diewe ’n kragopwekker steel (die besigheid se naam word weerhou).
’n Mens sien op die videomateriaal hoe die diewe geluidloos heen en weer voor die besigheid verbystap en die hawelose rustig voortslaap.
Eers toe hulle die venster breek en die kragopwekker na buite sleep, sien jy hoe hy slaapdronk opstaan en ’n entjie probeer wegstap.
Hy sien egter hulle doen niks aan hom nie en stap weer terug na die area waar hy gelê en slaap het.
Nadat die diewe weg is, loop hy egter weg van sy slaaparea af en ’n mens wonder of hy nie bang is dat hy beskuldig sou word van die diefstal nie.
Kragopwekkers is steeds heel bo aan rowers en diewe se steellysie.
Mid Alarms operasionele bestuurder, Johan Oberholzer, sê dat daar die afgelope drie dae drié kragopwekkers by besighede gesteel is.
Dit blyk dat die diewe vooraf eers die besighede moes besoek of dopgehou het, want hulle het presies geweet waar die kragopwekkers is.
Tydens een van die inbrake was die diewe binne ’n minuut en ’n half in en uit die besigheid, wat bevestig dat hulle weet waar dit was.
Twee van die kragopwekkers is in Sentraal en een in Vaalbank gesteel.
• Dit is die soveelste voorval waar kragopwekkers in diewe se visier was.
Op 20 Mei het rowers, in ’n wit NP200 bakkie, toegesak op ’n veiligheidswag by ’n besigheid in die industriële area.
Hy is aan ’n kraan vasgebind en sy gesig met ’n hoedjie toegemaak.
Lees ook:
Daarna is ’n kragopwekker en battery gesteel.
• Net ’n paar dae later is Go Fish by Fountain Corner se kragopwekker gesteel.
Die Mercedes Vivo-bus, wat van die diefstal verdink word, is positief verbind met ’n poging tot diefstal buite die perseel van Pioneer Drill & Blast, waar ’n groep probeer het om ’n noodwiel vanaf ’n Ford Raptor te steel.
Hulle is egter deur twee Pioneer-werknemers gekonfronteer, wat die wiel, wat onder die Raptor aangebring is, reeds op die grond onder die bakkie sien lê het.
Vergelykings van die CCTV-videomateriaal wat by beide Go Fish en Pioneer geneem is, het ooreenkomste geïdentifiseer met die Vivo-minibus, soos die wieldoppe.
Toe hulle uitgevang is, het die groep gesê hulle is van ’n koerierdiens, maar die Pioneer-werknemers het hulle nie geglo nie.
CCTV-beeldmateriaal wat na die konfrontasie gekyk is, het gewys hoe een van die Vivo-insittendes minstens drie keer onder die Raptor induik om die spaarwiel los te maak.
Hulle het sonder die wiel geepad.
• Na twee afsonderlike voorvalle van roof en diefstal by Mass Hire en ’n kliënt van Mass Hire is daar verlede week drie verdagtes gearresteer (hul name is nog nie op hierdie stadium bekend nie).
Die een voorval was op 7 Mei en die ander een sowat twee weke later.
Tydens die laaste voorval is ’n mobiele kragopwekker ter waarde van R500 000 vanaf die perseel in Hektaarstraat gesteel.
’n Kliënt van die besigheid in eMalahleni is op 7 Mei deur dieselfde MP200 geteiken, waartydens ’n kompressor gesteel is.
Mass Hire het takke landwyd, insluitend Mosselbaai, Secunda, George en Lephalale. Die maatskappy het tydens ’n vorige onderhoud gesê dat hulle vrees dat dit dieselfde sindikaat kan wees wat verantwoordelik is vir al die voorvalle en dat hulle van voertuie verander om van die radar af te bly.
Nommerplate wat op kringtelevisiemateriaal vasgevang is, het gewys dat die nommerplate vals is en ooreenstem met die nommerplate van ’n Jeep in Gauteng.
Die CCTV videomateriaal het ook gewys dat die rowers gewapen was.
