Daar was geregtigheid vir Liezel – wat van Melissa?
Afriforum se Privaatvervolgingseenheid wat deesdae meer sukses behaal as die hele “magtige” Suid-Afrikaanse polisie en wat reeds verskeie suksesse in sake op Middelburg behaal het, gaan ook nou poog om geregtigheid vir Melissa van der Westhuysen (35) te kry.
Nadat vier weke verloop het vandat die jong enkelma op haar bromponie doodgery is in ’n lafhartige tref-en-trap het Melissa se familie Afriforum se privaatvervolgingseenheid genader om namens hulle op te tree.
Prokureur en regsadviseur, Wico Swanepoel, het aan die Middelburg Observer bevestig dat Afriforum ’n “waaksaamheidsopdrag” het om te sorg dat die ondersoek sal vorder tot daar geregtigheid vir Melissa is.
Die jong enkelma is om 01:00 die oggend van die 27ste Mei van agteraf getref, op die hoek van Lilian Ngoyi- en Impalastraat.

Sy en twee medewerknemers van die Kantien Klub 31 was saam op pad huistoe, na hulle skof as kroegdames, toe ’n wit dubbelkajuit bakkie haar van agter getref en weggejaag het. Die bakkie het in die vlugproses ook oor die rooi verkeerslig in Proteastraat gejaag.
Ten spyte van verskeie leidrade wat moontlike verdagtes geïdentifiseer het, is daar nog geen arrestasie gemaak nie.
• Die privaatvervolgenseenheid se lof is al voorheen besing, nadat hulle druk geplaas het op die Nasionale Vervolgingsgesag om sake op die hofrol te kry en is tans besig om ses plaaslike sake te ondersoek.
Die eenheid was ook betrokke in die vonnis van Khumbulani Malinga nadat hy Liezel Visagie op 23 Maart 2019 doodgery het.
Die saak sou ’n stille dood gesterf het sonder die eenheid se ingryping.
Lees ook:
