Kindertjies alleen in donker nag op N4
“Hulle het mekaar se handjies vasgehou. Een het aan die binnekant van die geel lyn geloop en die ander entjie aan die buitekant van die lyn. As ek nie my hoofligte aangesit het nie, sou ek hulle raakgery het.”
So vertel Herculaas Taljaard nadat hy Woensdag in die vroeë oggendure twee kleuters van ses en twee jaar op die N4 gehelp het.
Herculaas sê hy sien in ander media dat daar gesê word dat ’n sekuriteitsfirma hulle gekry het.
“Ek het hulle gekry en na die tolhek toe gevat.”
Hy was omstreeks 04:00 op die N4 vanaf Middelburg na Rustenburg onderweg, toe hy op die N4, sowat twee kilometer voor die tolhek naby Brits, twee donker figure in die pad opmerk.
Herculaas het sy hoofligte aangesit en dadelik die twee verskrikte kinders gesien.
“Ek en nog ’n voertuig het by hulle gestop.”
Hy kon sien hulle is erg getraumatiseer en het aanvanklik gedink dat hulle in ’n ongeluk betrokke was.
Nadat hy die area bespied het, het hy gesien dat daar ’n wit VW Polo op die oorkantste hoofweg, Pretoria se rigting, staan.
“Die neus het in die stadige baan gestaan en die gatkant in die geellyn. Die ligte was nog aan en ek het gedink die kar het dalk gerol en die kinders het uitgeklim. Hulle het oor die middelveld na die aankomende verkeer toe geloop en toe begin aanstap.”
Lees ook:
Hy het die kinders gevat en na die VW Polo gegaan.
“Die vensters was uitgeslaan en daar was bloed in die kar. Daar was egter geen volwassenes nie.”
Hy het gesien die voertuig het erge skade onder en het besef dat hulle oor klippe op die N4 gery het en het vir die oudste kind gevra waar hul ouers is.
Die kind het aan hom probeer verduidelik dat hul “ma en pa gevat is”.
Hy het eers later gehoor dat net hul ma saam met hulle was, maar hy dink weens die skok het die kind gesê sy ma en pa is gevat.
Herculaas, wat ’n reaksielid is van die Noodroep Radiogroep Sektor 3 in Middelburg, het die radiogroep se ondervoorsitter, Juanita Groenewald, per zello gekontak en haar vertel van die twee kinders.
Hy was ook bekommerd dat die ouers van die kinders gekaap is en saam met die kapers weg is.
Juanita het Herculaas aangeraai om hulle na die tolhek te neem en daar te wag tot die polisie opdaag.
“Ek het my voertuig se deure oopgemaak en die twee kinders het by die deure gestaan tot ’n sekuriteitsfirma opgedaag het.”
Hy het haar gevra om die Brits polisie te kontak en te vertel dat hy die kinders gekry het en daar sal wag.
Juanita het op haar beurt die polisie gebel en hulle het gesê hulle sal hulp stuur.
Kort daarna het lede van PPS Sekuriteit by Herculaas opgedaag en vir hom gesê dat die kinders se ma veilig gekry is.
Herculaas is baie nederig oor die gebeure en sien homself nie as ’n held nie.
“’n Kind is ’n kind en ek sal altyd help,” het Herculaas, self ’n pa van ses kinders (met die jongste net ’n maand oud) gesê.
• Me. Surprise Sithole (36) het vir die Kormorant koerant vertel dat hulle op pad was na Mpumalanga toe haar voertuig by De Wildt klippe op die pad getref en van die pad af gegaan het.
Sy kon nie verder ry nie.
’n Trok het by haar gestop en sy het by die trokdrywer ingeklim om vir hulp te bel.
Terwyl sy besig was om te bel, het gewapende rowers uit die veld uit gepeul en ’n wapen op hulle gerig.
Die trokdrywer het dadelik weg gery, met die geskokte me. Sithole nog by hom in die trok.
Sy was buite haarself en het by hom gepleit om te stop, want haar kinders was alleen saam met die rowers, maar hy het gesê hy kan nie stop nie en het aangehou ry.
Intussen het PPS Sekuriteit van Brits die oproep gekry dat daar ’n moontlike rooftog op die N4 is en het hulle saam met Afriforum Buurtwaglede uitgejaag soontoe.
Hulle het me. Sithole se voertuig gekry, maar daar was geen spoor van die kinders nie.
Die oomblik toe hulle die kinders by Herculaas kry, het die seuntjie vir hulle gesê hul ma is weg, maar hy kon nie haar naam gee nie.
Hulle is egter kort daarna deur die polisie in kennis gestel dat die ma hulle gekontak het vanaf die Engen vulstasie op die N4 in Pretoria om te sê dat sy deur die trokdrywer afgelaai is.
Die Sinoville polisie het haar gaan oplaai en gebring na die toneel om met haar kinders herenig te word.
Sy het gesê dat die gevoel oorweldigend was toe sy hoor haar kinders is veilig.
Me. Sithole het gemeld dat haar seuntjie vir haar vertel het dat die rowers die vensters gebreek en die bagasie gevat het. Hulle het ook die kinders gevra vir hul ma se selfoon.
Nadat die rowers weg is, het die seuntjie hul sitplekgordels losgemaak en begin loop met sy susssie, waarna Herculaas hulle gevind het.
• Ruan van Vuuren (PPS Sekuriteit) het vir die Kormorant gesê dat terwyl hulle op die toneel was, dat daar nog vyf voertuie en ’n trok moes stop nadat hulle oor klippe en skerp voorwerpe op die N4 gery het.
• Mnr. Kobus Grobler (Afriforum Buurtwag, Brits) het hom sterk uitgespreek oor die gebeure en gesê dat “daar iets gedoen moet word aan die rooftogte op die N4. Motoriste word geterroriseer op hierdie pad en dringende aksie is nodig.”
• In die Middelburg omgewing op die N12 is daar die afgelope paar jaar al etlike mense gekaap of beroof.
Daar opereer twee groepe, die “Blouligbende” wat mense aftrek en kaap en hulle dan later in die veld aflaai en dan die groep wat klippe of skerp voorwerpe op die pad gooi en die mense beroof as hul voertuie nie verder kan ry nie.
• Herculaas is bekend in Middelburg waar hy gereeld help.
Verlede jaar was hy vir sowat elf ure in die Klein Olifantsrivier om hulp te verleen toe ’n voertuig in die rivier beland het. Daar is gedink dat die bestuurder in die voertuig was, maar eers later die aand is uitgevind dat hy veilig uitgespring het toe die voertuig af is water toe.
Herculaas het verlede jaar ook gehelp om ’n persoon wat ontsnap het te vang en ’n paar jaar gelede ’n gesteelde voertuig terug te kry.
Lees ook:
