News

Mense jaag soos besetenes in digte mis

Swak sig in die mis en spoed was waarskynlik die oorsaak van talle ongelukke die afgelope drie dae op die N12 en N4.

Vier mense is gister dood in die ongeluk op die N12 net duskant die Ogies-afrit. Beide bane van die N12 was bykans die hele dag gesluit.

Daar was vanoggend net na 06:00 ook ’n ongeluk op die N4 by die Ferrobank afrit op die N4.

Wimpie van Zyl, ’n lid van die Noodroep Radiogroep Sektor 3 in Middelburg, het pas laat weet dat die mis op die N12 vandag beter lyk as gister.
“Net op die S-draai by eMalahleni is daar plek-plek mis en moet motoriste versigtig wees.”

Hy ry ten minste drie keer per week Johannesburg toe op die N12.

Gisteroggend het hy omstreeks 06:00 op die N12 verby eMalahleni gery.
Die mis was geweldig erg en het hy op Zello en al die WhatsApp-groepe waarop hy is, mense gewaarsku.

Alhoewel hy baie stadig gery het, het hy amper in ’n voertuig vasgery wat half in die pad gestaan het na ’n ongeluk.

“Ek moes uitswaai vir die voertuig. Die insleepdienste was gelukkig reeds op daardie toneel toe ek daar verby is. Toe ek onderdeur die brug ry by die Ogies afrit, kon ek sien dat daar op die brug, ook ’n ongeluk was weens die mis.”

Sowat twee ure later was daar ’n kettingbotsing weens die digte mis op dieselfde plek waar die kleiner ongeluk vroeër die oggend was.
Voertuie en trokke wat stadiger gery het weens die mis, is van agter af getref deur motoriste wat te vinnig in die mismuur ingery het.

Herculaas Taljaard, ook ’n lid van die NRRS3 (soos Wimpie) was self gister byna in die kettingbotsing betrokke.

Toe hy in die digte mis inry, het hy stadiger gery en skerp gerem.
Hy moes egter dadelik uitswaai na die middelman toe ’n ongeluk reg voor hom gebeur en hy net wrakstukke sien spat.

Herculaas het die hele tyd gehoor hoe mense skree en karre en trokke mekaar tref en hy het besef dat hy in ’n baie gevaarlike situasie in sy werksbakkie was.
Die polisie het hom kort daarna veilig uit die toneel begelei.

• Wimpie is van mening dat daar steeds mense is wat nie veilige volgafstande nakom nie en te vinnig in mis en onveilige toestande, soos gladde paaie, ry.

Hy sien ook elke keer wat hy op die N12 ry, hoe vinnig mense met maatskappyvoertuie ry. “Hulle vlieg verby my!”

Hy doen ’n beroep op motoriste om stadiger te ry as hulle in die mis of reën ry.

Lees ook:

Nuutste: Vier reeds dood in N12 kettingbotsing

Video: Vasgekeerdes skreeu uit wrakke, dalk meer dood op N12

“Stay on the N4, take Balmoral off-ramp” – One killed, N12 closed following collisions in dense mist

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button