Honde vergiftig, duur veldvoertuig gesteel
Twee honde is vergiftig en ’n vierwielaangedrewe veldvoertuig wat vandag herstel sou word om later in die week na ’n plaas te gaan, is in die vroeë oggendure in Oribistraat (Kanonkop) gesteel.
“Wêreldsgoed kan ’n mens nog vervang, maar ons honde….” het mnr. Rocco van Rooyen omgekrap gesê.
Na aanleiding van dowwe videomateriaal waarop net skaduwees uitgemaak kon word, blyk dit dat die boewe tussen 03:30 en 04:00 toegeslaan het.
“Hulle het eers ons honde, Clara en Ruger, ons twee malinois honde vergiftig en daarna die sleepwa met die voertuig daarop, gesteel. Ons het vanoggend nog van die maalvleis teen die palissade heining gekry.”
Nadat die honde gevrek het, het die booswigte die elektriese hek buite aksie gestel en die hek van die spoor af gehaal.
Daarna moes hulle met ’n voertuig ingekom het, die sleepwa met die voertuig daarop gehaak en weg gery het.

Mnr. Van Rooyen sê dat sy broer, Corno, wat in Pretoria bly, verlede week die veldvoertuig vir R108 000 gekoop het om op sy plaas agter die Soutpansberge te gebruik.
Oor die naweek het die olieliggie skielik aangekom en het Rocco gereël dat die voertuig reg gemaak sal word in Middelburg.
“Ek het gister die sleepwa met voertuig gaan haak en sou ek hom vanoggend invat dat hulle net die olielek regmaak. My broer sou hom dan Donderdag kom haal het as hulle plaas toe gaan.”
• Dit is ’n Linhai 550 veldvoertuig en as enige persoon die voertuig en sleepwa opmerk, bel Johan Oberholzer (operasionele bestuurder, Mid Alarms) by 082 802 6399.
