News

WhatsApp oor trok vol fietse versprei soos veldbrand

Fietsryers voel oor hul fietse nes kareienaars oor hul karre.

Deesdae is fietse net so duur soos karre, met die duurste fietse in Suid-Afrika, Pinarello fietse, wat tussen R259 000 en R289 999 kos.

Plaaslik is fietsry hoog op die sportagenda met die dorp wat selfs ’n fietsrybaan het.
Dis te verstane dat fietsryers letterlik in ’n rouproses ingaan as hul fietse gesteel word.

Plaaslik word daar feitlik weekliks fietse tydens huisbrake gesteel.

Die nuus van ’n trok wat tydens ’n reuse padblokkade gister naby Glen Village in Pretoria op Dr Solomon Mahlangu-weg afgetrek is, sou nie die aandag getrek het, as dit nie vir die groot aantal bergfietse was wat in die vragbak ontdek is nie.

WhatsApp-groepe versprei tans die nuus dat die fietse wat op die trok gevind is, “te veel is om te tel”.
Die nuusbrokkie versprei ook plaaslik op WhatsApp-fietsrygroepe.

Fietseienaars word aangeraai om die Pretoria polisie te skakel vir uitkenning van fietse wat moontlik gesteel is.

’n Vinnige Google soektog wys egter dat die nuusbrokkie eerste op die Pretoria Oos Bergfietsgroep se Facebook-blad geplaas is, vanwaar dit sy weg na WhatsApp gevind het.
Die persoon wat die plasing gemaak het sê duidelik dat die plasing uit ’n ander oord ontvang is en bloot gedeel word vir fietsryers se kennisname.

In Junie verlede jaar het Gauteng fietsryers onder die vaandel van Safer Routes saamgetrek om die metropolisie in Pretoria te dwing vir beter beveiliging van fietsryers, wat sê Solomon Mahlangu-weg was ’n brandkol waar fietsryers en drawwers deur kriminele geteiken word.

Safer Routes het in ’n memorandum wat aan die metropolisie oorhandig is, gesê dat die misdade gewoonlik gepaardgaan met die diefstal van fietse.

Die oorsprong van die boodskap oor die fietse wat in die padblokkade gevind is, kon nie bepaal word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button