News

Die briljante sakeman wat op ’n pelgrimstog is, preek voor koerant se kantore

Met handgebare en ’n taal wat niemand verstaan nie, het ’n man met Josefskleed vanoggend voor die Middelburg Observer se kantore uit, wat lyk soos ’n Bybel, voorgelees.

Hy het kort-kort na die hemele gewys en vir ongeveer tien minute uit die boek voorgedra..
Mense het verstom gestaar na die imposante fuguur wat lyk asof hy uit die Kinderbybel ontsnap het.

Daleen Naude het die eerste keer agt jaar gelede oor “Udai” berig, wat eintlik Herman Rhode is.

Hy daag kort-kort by die koerant se kantore op met ’n onverklaarbare boodskap of houers waarin daar verskillende voorwerpe is soos mielies, boontjies, skulpies of klippies.

Daleen skryf reeds in Augustus 2015:

Hy dra ‘n kleurvolle Josefskleed en praat ‘n taal wat niemand verstaan nie.

“Wie is dié man met die rok en lang baard wat klaarblyklik net Hebreeus kan praat?”

Udai besig met sy preek voor die Middelburg Observer se kantore. FOTO: Tiisetso Malunga.

Een familie, wat hom al 11 jaar ken, sê hulle het nog altyd geglo dat hy Hebreeus kan praat. Woensdag het hulle iemand wat wel die taal magtig is laat kom, maar, volgens die persoon praat Udai beslis nié Hebreeus nie en is dit ‘n heel onbekende dialek.

Hulle het Udai leer ken toe hy nog net “Herman Rhode” was. ‘n Aangename jong man wat toe reeds vurig oor sy ou testamentiese beginsels was.

Hy was gereeld by hulle aan huis en het later net “Hebreeus” (soos hy dit noem) gepraat. Hy sou soms vir maande verdwyn en dan net een dag weer op die plaas opdaag, ‘n slaapplekkie en kos soek en dan los werkies doen. Udai (hy sê dit is sy Hebreeuse naam) het nooit langer as drie maande gebly nie.

“Udai bedel nie geld nie. Ons gee vir hom ‘n dak en iets te ete. Op sy beurt doen hy vir ons sekuriteit op die plaas. Voorheen het hy soms nog Afrikaans gepraat. Nadat hy uit ‘n inrigting gekom het, het hy nog nooit weer met ons Afrikaans gepraat nie.”

Sy vertel dat Udai nie noemname aanvaar nie en dat hy altyd gevra het na mense se doopname en hulle dan op dié name aangespreek het.

Toe hulle op ‘n stadium gevra het oor sy identiteitsdokumente, was sy antwoord net: “Dit is heidense name, wat ek lankal weggegooi het. ‘n Mens mag ook nie die naam ‘God’ voor hom noem nie, want dit is té heilig en dan word hy baie kwaad.”

Die ander gesin ken ook vir Udai en het alles beaam. “Hy is ‘n profeet op sy eie pelgrimstog en dra selfs ou testamentiese klere.”

Sy vertel dat Udai in Bloemfontein in die tronk beland het, juis omdat hy ‘n bord uitgepluk het waarop die woord “God” gestaan het, “omdat hy so sterk voel dat die naam nie ydelik gebruik mag word nie.” Hy is daarna na ’n inrigting gestuur vir waarneming.

Jare gelede was hy ‘n briljante werker wat uitlaatpype ontwerp het, vandag loop hy in ‘n wit gewaad rond op sy eie pelgrimstog.

Alto-Dei, ook Udai genoem, en as Herman Rhoode gedoop, is deur sy familie gesoek, omdat sy ma dood is.
Die Observer het op ons webtuiste ‘n berig gedoen en binne etlike ure is Alto-Dei opgespoor.

Maar wie is hierdie man wat sonder dokumentasie oor landsgrense dwaal?

Sy neef, Mossie (Hendrik) Weyers en sy vrou, Adri, het bietjie meer vertel van Herman, wat vroeër jare in dié omgewing op skool was.

Herman was ook jare gelede getroud en het ‘n dogter. Hy was ‘n suksesvolle sakeman en het ‘n uitlaatpyp ontwerp wat brandstof-ekonomies was.
Een oggend het hy verdwyn en ’n nuwe, vreemde lewe en pelgrimstog begin.

FOTO: Tobie van den Bergh.

“Alto-Dei leef net volgens die Levitikus voorskrifte uit die Bybel en oral waar hy gaan soek hy na nóg mense wat hiervolgens leef.”

Tydens een van sy pelgrimstogte het hy oor die Mosambiekse grens gedwaal, wat hom in die tronk laat beland het, omdat hy nie enige dokumente by hom gehad het nie.

“Hulle het hom egter kort daarna laat gaan. Die mense in Mosambiek was bang vir hom en sommige mense het hom tot die white witch genoem. Herman is egter skadeloos en lééf net volgens die Bybel.”

Tydens ‘n ander staptog moes sy familie hom in Libië gaan haal.

Daarna is hy in ‘n gestig gesit om te kyk of hy ‘n sielkundige afwyking het, maar daar is gevind dat daar niks fout is met hom nie. “Hy glo net vas in sy oortuigings.”

Mossie vertel dat hy Alto-Dei (die Hebreeuse naam wat hy homself nou noem), verlede jaar langs die pad op die Bethalpad gekry het.
Hy het ‘n rukkie by ’n gesin op Blinkpan gebly en hulle was verstom hoe toegewyd hy is.

“Elke oggend gaan hy na buite waar hy in Hebreeus, Grieks en Latyns bid en lofprysing doen.”

Hy eet net ongesuurde brood en vars vrugte en groente, asook kruie. Tydens sy kuiertjie het hy selfs vir hulle heuning- en dadelkoekies op die vuur gemaak.
Alto-Dei is baie netjies op homself en maak selfs sy eie seep. Hy ruik ook altyd lekker, omdat hy aromatiese olies gebruik.

“Hy het soms met ons Afrikaans gepraat, maar dan oorgegaan in Sabbat, soos hy dit noem. In sy kamer by ons het hy die Hebreeuse alfabet opgesit en ook van regs na links gelees. Hy het ook spesiale boodskappe vir mense in Hebreeus geskryf en vir ons gegee om by hulle af te gee.”

Mnr. en me. Weyers sê dat “Alto-Dei glo dat hy deur God gekies is om ‘n nuwe lewe te begin en hy leef absoluut daarvolgens.”

• Alto-Dei is in die Stoffberg omgewing opgespoor en het weer voortgegaan op sy pelgrimstog ná sy ma se begrafnis.

@middelburgobserver

“Moses” gives a sermon outside the Middelburg Observer #middelburg #church #middelburgobserver #moses

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button