News

Leon soek nie geld nie, hy soek net werk

Soos enige man, wil die 48-jarige Leon Delange op ’n eerbare wyse sy daaglikse loon verdien.

Meer as ’n maand gelede, het Leon honger, koud en nat by die Middelburg Observer kantore opgedaag nadat hy sy werk verloor en op straat beland het.

Dwelmslaaf misbruik gemeenskap se goedheid

As ’n opregte en eerlike man, was hy dáár ’n weerlose teiken vir dwelmverslaafdes en hulle handelaars wat op hom druk geplaas het om saam te gebruik en elke nag onder die sterre het hy wakker gebly uit vrees dat hy aangerand of beroof sou word.

Hy het gesmeek om ’n veilige hawe. “Ek sal selfs buite in iemand se tuin slaap, solank ek net veilig is.”

Maar Leon se pleidooi het gelukkig op goedhartige engele se ore geval, en Louise en Johan Lee van die Koppiestraat Behuisingsprojek het vir Leon op 13 Oktober – Leon se verjaardag – ingeneem.

Die uitgeteerde man wat verlede maand in desperaatheid voor die redaksie se deur gestaan het, het verdwyn, en lyk Leon nou versorgd en netjies.
Hy help tans uit as kok vir die ander 30 inwoners by Koppiestraat, maar sy daaglikse soektog na werk het tot dusver nog niks opgelewer nie.

“Ek het al by elke sekuriteitsfirma gaan aanklop, en het selfs al aansoek gedoen by die hospitale en regsfirmas. Ek is bereid om enige werk te doen, en vra die gemeenskap se hulp.”

Leon het sy B-graad in sekuriteit maar moet by Psira weer herregistreer. Hy het ook ervaring in voedselvoorbereiding, die bedryf van pandwinkels, en administratiewe werk by motordiensstasies.

Indien iemand aan Leon ’n werksgeleentheid kan bied, word hulle gevra om hom te bel by 060 276 2612.

• As inwoner by Koppiestraat is Leon geregtig om ’n klein kroegyskas, eenplaat gasstoof, ’n televisie en basiese geriewe soos koffie en suiker in sy wendyhuis aan te hou.
’n Tweedehandse slimfoon sal hom ook bemagtig om elektroniese werksaansoeke te stuur.

Die Koppiestraat Behuisingsprojek bied tans skuiling aan 31 behoeftige inwoners, wat weens finansiële omstandighede andersins op straat sou wees. Die inwoners moet egter ’n werk hê om tot bekostigbare huur by te dra.

Inwoners mag glad nie drank of dwelms gebruik nie.

Indien iemand skenkings van kos of klerasie aan die projek wil maak, of dalk direkte skenkings van die bogenoemde behoeftes aan Leon self, kan hulle dit by Koppiestraat aflaai of die bestuur kontak by 065 749 5286.

Lees ook:

‘Help my asseblief, ek wil nie op straat wees nie’

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button