News

Tienjarige sukkel om kleinboet se dood te verwerk

Die tienjarige Robert Rafferty kan nie glo sy kleinboet, Rayden, gaan nooit weer huistoe kom nie.

“Robert is maar stillerig. Ons beweeg almal maar deur al die fases,” het Jackie Sinden, by wie die familie tans tuisgaan, gesê.

Rayden het verlede Woensdag inmekaar gesak, gelyk of hy ’n epileptiese aanval kry en opgehou asemhaal.
Daar is noodbehandeling toegepas en met hom na die Middelburg Hospitaal gejaag, maar met sy aankoms is hy dood verklaar.

Rayden, wat meer na ’n tweejarige as ’n sesjarige seuntjie gelyk het omdat hy so klein was, het nierprobleme gehad en was die afgelope twee jaar op die orgaan-oorplantingslys.
Sy ma, Kristina Jansen van Rensburg, het gemeld dat hy ’n besige seuntjie soos ander kinders van sy ouderdom was.

Hy het die oggend nog Christelike liedjies, soos ‘Visvang vir Jesus’ gesing en vir hulle op ’n pamflet gewys wat hy vir Kersfees wil hê.
Minute later het hy inmekaar gesak.

Kristina en Jackie het laat hierdie week nog rondgery om alles in gereedheid te kry vir Jayden se roudiens Vrydag om 10:30 by die Corpus Christi gemeente.
Teen druktyd het hulle bykans R8 000 bymekaar gemaak, maar is gemeld dat die totale kostes vir die roudiens R19 000 beloop.

Hulle het genoem hoe versot hy was op die “Paw Patrol” karakters en het hy ook ’n “Paw Patrol” kepsie gedra ten tyde van sy afsterwe.
Kristina dra sedert sy dood sy kepsie vasgemaak aan haar denims.

’n Vrou het vroeër die week vir hulle ’n Paw Patrol-beertjie en ballonne geskenk vir die diens.
Daar is genoem dat daar ook kolwyntjies en verversings beloof is deur persone en besighede.

Hulle benodig egter nog baie fondse om die roudienskostes te dek. Persone wat nog bydraes wil lewer, kan Jackie bel by 072 042 3132.

Lees ook:

’n ‘Paw Patrol’ roudiens vir Rayden

‘Visvang vir Jesus’ toe sterf sesjarige

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button