Die jaar 2023 het ’n makabere begin gehad met ’n plaaslike petrolbom-aanval op Frikkie en Judy-Mae Kapp van Jud’sies winkel, deur ’n buurman van hulle by die Fountain Corner-sentrum, langs die Middelburg Mall.
Mnr. Willie Bester, eienaar van die Horlosie Kliniek, het die Kapps geteiken na jare se bakleiery oor ’n gestremde parkering.
Bester het nie net die Kapps met petrolbomme in hul winkel bestook nie, maar ook op hulle en ander huurders van die sentrum geskiet, voordat hy sy eie winkel aan die brand gesteek en homself in die winkel in die kop geskiet het.
Sy liggaam is weke na die aanval eers deur sy vervreemde seuns opgeëis en stilweg begrawe.
Mnr. Bester, wat vliegtuie in die lugmag gediens het, is wyd geloof vir sy presisiewerk met horlosies, waarvoor hy self parte gefabriseer het.
Kliënte van reg oor Suid-Afrika het horlosie erfstukke by hom gehad vir herstelwerk.
Mnr. Bester, wat volgens kennisse geleef het vir sy kliënte, het alle horlosies sorgsaam uit die besigheid verwyder voor die verwoesting.
KYK: Skokvideo wys hoe egpaar voor petrolbomme in Fountain Corner aanval vlug
Petrolbomme gegooi, skote klap, een sterf by Fountain Corner

• Die dorp het aan die begin van 2023 ook nog aan die nadraaie van Covid, en die onwettige string munisipale stakings, herstel.
Die jaar het egter afgeskop met bietjie goeie nuus vir inwoners oor ’n voorgestelde klasaksie teen die munisipaliteit deur die plaaslike prokureur André Brandmuller namens belastingbetalers.
Mnr. Brandmuller wat ook in sy persoonlike hoedanigheid die munisipaliteit aanvat oor foutiewe water rekeninge, sê inwoners behoort eenvoudig glad nie vir dienste, soos rommelverwydering wat nié tydens die sporadiese stakings gelewer is nie, te betaal nie.
Die hof is genader vir verligting vir belastingbetalers wat steeds vir dienste moes betaal, terwyl munisipale werkers daagliks by die magasyn gesit en drink het.
Die stakende werkers is ten volle betaal, ten spyte van sowat vier maande se onderbroke werk, met die eerste staking wat meer as twee maande lank geduur het.
