News

Dogter speel self speurder om pa se kar terug te kry

’n Dogter het met die hulp van vele persone haar eie ondersoekwerk gedoen om die vrou wat haar pa se kar sonder sy toestemming gevat het, te laat arresteer.

Die twee verdagtes, Carmen-Leigh White-Sharpley (na wie daar al van Woensdag af gesoek is), en ’n man is Vrydagaand met die hulp van die Witbank Polisie gearresteer.

Die polisie het Saterdag die man laat gaan, omdat hy nie positief verbind kan word met die kardiefstal nie.
Die familie sê egter hy het twee dae met die gesteelde voertuig werk toe en terug gery.

Sylvia de Bruin het van die oomblik wat haar pa, Koos van Staden, se Ford Fiesta gesteel is, dadelik met ’n ondersoek begin.

Sy het Woensdag al Carmen-Leigh White Sharpley se naam genoem, omdat Carmen twee weke voor die diefstal by haar pa gaan bly het. Haar pa het Carmen, wat op straat was, by hom in die woonstel ingeneem.

Carmen en mnr. Van Staden het Dinsdagaand stry gekry en Woensdag toe hy wakker word, was Carmen en sy kar, asook sy skootrekenaar, selfoon en huis se sleutels weg.

Carmen-Leigh White-Sharpley tydens die arrestasie Vrydagaand.

Die familie het Woensdag deur die loop van die dag CCTV-videomateriaal vir ’n joernalis gestuur waar ’n vrou die motorhuis by Moddercourt Woonstelle oopsluit, artikels in die kattebak laai en met die kar wegry.

Mnr. Van Staden het Carmen geïdentifiseer as die vrou op die videomateriaal.

Sylvia het geen steen onaangeraak gelos om die verdagte te probeer vastrek nie.
Sy het alle inligting opgevolg wat haar Vrydag gelei het na eMalahleni.

Sylvia sê hulle het twee adresse gekry en is eers na die een adres, maar daar was niemand.

Op pad na die tweede adres, het hulle ’n seun en meisie langs die pad gekry en gevra of hulle dalk die wit Fiesta gesien het.

“Die seun het self gesê: ‘die een met die swart mags? Ek het hulle by Panorama gesien.”
Sylvia-hulle is soontoe, maar kon nie haar pa se kar opspoor nie.

Hulle is na ’n ander adres toe, waar hulle navraag gedoen het oor Carmen en die man, wat in die woonstel op die erf bly.

“Die mense in die huis het vir ons gesê dat ons Carmen-hulle met net 10 minute gemis het.”
Verder het die huismense bevestig dat Carmen en die man met die wit Fiesta ry.

“Ons het vir hulle gesê die kar is gesteel en het ’n ent van die huis af vir ure gaan sit en wag.”

Op ’n stadium het een van die huismense na hulle toe gekom en gesê hy sal vir hulle gaan wys waar Carmen en die man kan wees.
Hulle was op pad na ’n dobbelhuis, toe hulle verby ’n kruidenierswinkel ry en die Fiesta herken.

Sylvia vertel hulle het haar pa se voertuig op ’n afstand gevolg en gesien hoe die twee by ’n bottelstoor stop.

Op dié tydstip het die voertuig na ’n ander woongebied (wat die man Spring Valley genoem het) gery en is die bewering gemaak dat hulle soontoe gaan om dwelms te koop.

Sylvia en die mense by haar, het besluit om dan eerder by die huis vir hulle te wag.

Nadat hulle nog ’n paar uur in die kar gewag het, het hulle besluit om terug te keer na Middelburg.
Hulle het egter die huismense gevra om hulle te laat weet as Carmen en die man terug is by die huis.

Sylvia-hulle was net buite eMalahleni toe hulle gekontak word met die nuus dat Carmen en haar vriend terug is by die woonstel.

Hulle het omgedraai, teruggery na die woonstel toe, waar hulle hul voertuig agter haar pa se gesteelde kar gestop en ’n ent verder gaan staan het.
Van daar af het hulle die Witbank Polisie gebel, wat blitsig op die toneel was.

“Daar is op die toneel erken dat die selfoon verpand is.”

Mnr. Van Staden se skootrekenaar, wat in stukke uitmekaar gehaal op ’n bed gekry is, asook sy beursie is ook in die woonstel gekry.
Die beursie, met al mnr. Van Staden se kaarte nog daarin, is aan hom terugbesorg.

Daar is tydens die arrestasie ook dwelms in die woonstel gekry.

• Saterdag was die polisie by mnr. Van Staden, met Carmen in die vangwa.

“Sy het steeds ontken dat sy die kar gesteel het. Sy hou aan sê hy het die kar vir haar geleen. Hulle ontken ook dat hulle ander nommerplate op die kar gesit het toe hulle gery het, maar ons het hulle agtervolg en vir hulle gaan wag by die huis.”

• Mnr. Van Staden se selfoon is op die man, wat saam met Carmen was, se naam verpand.

Hulle is na die pandjieswinkel toe, maar hulle wou nie die foon vir die familie gee nie, en gesê die polisie moet self kom om te bevestig dat dit ’n gesteelde foon is. Daar is vir die familie gesê hulle kan net die foon kry as hulle die R665 betaal.

Sylvia het egter wel verneem dat die polisie kyk na die inligting dat die jongman onder sy naam haar pa se selfoon verpand het.

• Die familie het videos geneem tydens die arrestasie Vrydagaand. Dit kan egter nie gebruik word nie, omdat die ander verdagte op die videomateriaal gesien kan word en hy nie formeel aangekla is nie.

In die video word gehoor dat Carmen en haar vriend beplan het om Saterdag Barberton toe te ry met die kar.

• Sylvia is in kennis gestel dat Carmen vandag in die Witbank Landdrofhof gaan verskyn.

• Sylvia wil graag haar familie, die Witbank Polisie, asook Brian Clark en Ruben en Sasha-Lee Richards en hul gesin vir hul hulp bedank.

 
Back to top button