News

Fietsryer het moontlik “aanval” gehad

Die fietsryer wat Sondag verdwyn het, het ’n ligte beroerte gehad.

Mnr. Marius Leon Brits (64), die fietsryer wat Sondag omstreeks 08:00 spoorloos verdwyn en eers na 21:00 deurmekaar by sy huis in Dan Pienaarstraat opgedaag het, se dogter sê dit gaan baie beter met haar pa en dat hy nou weer gesels en glimlag.

Hy het Sondagaand na 21:00 rukkende, oortrek met ’n kouesweet, tuis opgedaag.

Hy is daarna hospitaal toe gevat waar hy tot vandag behandel is, met verskeie toetste wat op hom uitgevoer is, onder andere breinskanderings.

Die dokters vermoed dat ontwatering, gekoppel aan ’n baie lae bloedsuiker, tot gevolg gehad het dat mnr. Brits ’n “ligte beroerte” gehad het.

Die presiese diagnose is ’n “verbygaande iskemiese aanval”, wat beskyf word as vlugtige beroerte wat net minute duur weens ’n gebrek aan suurstof na die brein.

Simptome verdwyn gewoonlik binne 24-uur.

Hy kan steeds nie onthou waar hy oral gery het nie, maar is Sondagmiddag deur inwoners naby die Middelburg Mall opgemerk.
Hy het Sondagaand vertel dat hy sy weg huis toe gevind het van die N4 af, waar hy uit ’n beswyming wakker geskrik het.

Diabete ervaar gereeld “dowwe” oomblikke en selfs motoriese beheer weens lae bloedsuiker met die brein wat eerste afskakel om energie te spaar.
Mnr. Brits se dogter, Ronel, sê dat hulle gister eers met hom begin gesels het oor die groot soektog.

“Hy voel effens verslae oor die feit dat hy soveel mense op hol gehad het, maar bitter dankbaar vir die omgee en moeite,” sê Ronel.
Daar sal nou gekyk word dat mnr. Brits inskakel by fietsrygroepies vir sy daaglikse oefening.

Ronel sê hy ry juis fiets om bietjie uit die huis te kom na sy aftrede.

“Mens dink nie aan ons broodwinners na aftrede nie, mens dink laat hulle rus, maar hulle wil nie, hulle wil aangaan met die lewe,” het sy gesê.
“Ek is seker hy is nie die enigste afgetrede man met dié frustrasie nie.”

“Ons wil verskriklik dankie sê vir die gemeenskap se omgee, ons is so bly om deel van die dorp en sy mense te wees,” sê Ronel.

Mnr. Bits sterk tans nog tuis aan en sal voorlopig nog deur dokters gemonitor word, hoewel blywende skade nie verwag word nie.

Lees ook:

Krimineel eis R6 000 by familie nadat bejaarde fietsryer verdwyn

Groot soektog na diabetiese bejaarde wat op Sondag fietsrit verdwyn

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button