News

Man vertel: “My geveg om uit krokodil se kake te kom”

Man vertel van lewe-en-dood geveg om uit krokodil se kake uit te kom.

“Ek het aan my gesin gedink en net gedink hoe ek gaan loskom uit sy greep,” het Anthony Joubert vanmiddag uit sy hospitaalbed in die Life Midmed Hospitaal vertel, nadat hy ’n krokodilaanval oorleef het.

Anthony glo “die Here het hom ’n tweede kans gegee” nadat hy Saterdagmiddag vir lewe en dood geveg het om homself uit die krokodil se kake te bevry.

“Die dokter het nadat ek in die teater was, vir ons gesê ek is baie gelukkig. Ek het ’n tweede kans gekry. Geen bene is gebreek nie en geen slagaar of spier is raakgebyt nie. Ek kan selfs my tone beweeg en opstaan om in die rolstoel te klim.”

Met sy vrou, Annalize, en drie kinders, JP (12), Liza (10) en Ashleigh (6), asook hul vriendin, Bianca van der Colff, langs sy hospitaalbed, herleef hy weer die traumatiese gebeure van Saterdagmiddag.

Hy onthou dat JP ’n vis gevang het en kom sê het dat die lyn vassit in ’n boom se takke wat in die dam hang.

“Die oomblik toe ek in die water trap, het die krokodil my van die kant af gegryp. Ek het nie geweet wat om te doen nie, want hy het my gegryp en my begin rol.”

Die kinders het alles sien gebeur en het gehardloop om die vroue op die dek te gaan haal.

“Ons het gehoor hoe Anthony gil en het gedink hy wil net die kinders laat skrik,” sê Bianca.

Anthony weet die krokodil het hom eers aan die bobeen beetgekry. Daarna het die krokodil sy greep effens geskuif na hoër op teen die been by die liesgedeelte.

Anthony sê hy het nie op daardie stadium enige pyn gevoel nie en dink hy het ook moontlik vir ’n rukkie sy bewussyn verloor.

Sy wil om te oorleef het egter die oorhand gekry en hy het geweldig geskop en geslaan, terwyl hy in die kake van die krokodil was.
Gelukkig was sy arms los.

“Ek het my duime in sy oë gedruk!” (Hy het stukkende plekke op sy duime waar hy dit in die krokodil se oë gehad het).
Hy weet dat hy op ’n stadium gehoor het hoe Johan vir hom skree: “Gee my jou hand!”

Annalize het ’n stomp op die kant van die dam gesien, die water ingehardloop en aanmekaar die krokodil op sy bek en kop geslaan.

Toe Johan weer vir hom sê, “gee my jou hand,” het die krokodil sy greep verslap, waarskynlik van die stomphoue van Annalize, en het hy gereik na Johan se hand.

“Johan het my uitgetrek en op die dek neergesit.”

Bianca noem dat hulle die besigheid, Alfa Fire, het en altyd ’n noodhulptas byderhand het.

Sy het verbande vir Annalize aangegee, sy het die erge wonde verbind.
Daarna het Johan hom na die Middelburg Hospitaal gehaas.

Hy is teater toe geneem waar een van die gate met een steek geheg is.

Sondag het Johan se familie hom geskuif na die Life Midmed Hospitaal, waar hy reeds teater toe geneem is om van die wonde weer toe te werk, skoongemaak en begin is met behandeling vir infeksie.

Hy moet more weer teater toe vir behandeling.

Anthony druk sy kinders weer en weer.
“Ek het nog ’n kans saam met my gesin gekry!”

• Hy is nie seker presies hoe groot die krokodil was nie.

• Anthony se twee dogtertjies het kort-kort trane afgevee en JP het erg bleek geword terwyl hy praat, want dit is die eerste keer wat hulle weer hul pa gesien het, nadat Johan met hom hom hospitaal toe gejaag het.

Hulle wou ook die hele tyd net vir hul pa drukkies gee.

JP het genoem dat die krokodil “nadat oom Johan met pappa gery het, weer opgekom het na die oppervlakte.” Hulle het hom nie weer daarna gesien nie.

• Anthony wil graag sy vrou en kinders, asook Johan en Bianca en hul familie bedank vir gebede, hulp en ondersteuning.
Hy sê ook dankie vir die Life Midmed Hospitaal vir hul besondere empatie en behandeling.

• Omdat die gesin nie ’n mediese fonds het nie, gaan sy behandeling in die hospitaal etlike duisende rande beloop.

Persone wat hulle wil ondersteun, kan Bianca bel by 072 186 3199.

• Anthony het goedgunstiglik ingestem dat ’n kort video van hom geneem word, om almal te bedank wat hulle tans ondersteun.

@middelburgobserver

Man ‘kry tweede kans’ na hy krokodil-aanval oorlee #crocodile #crocodiles #crocodileattrack #animalattacks #animal #middelburg southafrica

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

Lees ook:

Vroue veg met krokodil om man uit kake te kry – seuntjie bid in modder

 
Back to top button