News

Kommer oor stygings in ontvoerings in Mpumalanga

Die VF Plus in Mpumalanga het voorstelle by die provinsiale wetgewer ingedien oor hoe om die kommerwekkende styging in ontvoerings in die provinsie te bekamp.

“Dit is sonder teenstand aanvaar en die VF Plus sal alles moontlik doen om toe te sien dat dit uitgevoer word,” het Werner Weber
VF Plus-LPW en provinsiale leier: Mpumalanga, gesê.

Luidens die derde kwartaal se misdaadstatistiek het Mpumalanga ’n toename in ontvoering van 13.2% sedert die vorige finansiële jaar gehad.

Die provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal Semakaleng Manamela en die LUR vir gemeenskapsveiligheid, mnr. Vusi Shongwe, het hierdie week die statistieke in Mbombela bekend gemaak.

Die grootste toename in hierdie misdaad was in die Ehlanzeni-streek.

Mensehandel bly ’n ernstige kwessie in die provinsie. Studies het bevind dat die toename in ontvoerings verband hou met die aansienlike groei van gewelddadige en georganiseerde misdaad.

“Om hierdie soort ontvoerings te verminder, moet Mpumalanga se polisie georganiseerde misdaad takel.

“Intelligensiegedrewe polisiëring gerugsteun deur toegewyde ondersoekeenhede wat toegang het tot moderne forensiese hulpbronne kan die stygende vlakke van beide die misdade bekamp.

“Die misdaadsyfers van die afgelope drie jaar beklemtoon dat Mpumalanga steeds die derde hoogste aantal ontvoerings in die land het. Dit is kommerwekkend, veral as in ag geneem word dat 85% van alle aangemelde ontvoerings vroue en kinders as slagoffers het. Net hierdie week het ’n graad R-leerder by MO Mashego in Acornhoek vermis geraak.

“In Januarie vanjaar is twee vroulike buitelandse burgers in Mpumalanga in hegtenis geneem in verband met kinderontvoering. In dieselfde maand is ’n 42-jarige man in Acornhoek in hegtenis geneem in verband met die ontvoering van ’n vrou.

“Hierdie syfers wys duidelik dat daar ? groot probleem met misdadigheid in die provinsie is.

“Die inwoners van Mpumalanga kan nie kwalik geneem word indien hulle toenemend vertroue in ’n polisiediens verloor wat deur onbevoegde persone bestuur word nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button