News

Jarelange stryd vir beveiliging van kruising waar skooldogter gister raak gery is

Kyk uit vir ons kinders!

Daar moet dringend ingegryp word in John Magagulastraat waar ’n 15-jarige leerder van HTS Middelburg gister omstreeeks 16:00 deur ’n kar getref is.

Die skool pleit al jare dat die verkeersirkel reg onder die brug, omskep word in ’n vierrigting-stop, of dat verkeersligte daar aangebring word.

Drie van die dorp se grootste skole vorm ’n driehoek om die sirkel, en ’n skriftelike versoek om die sirkel te beveilig is volgens Middelburg Primary se hoof, Renier Loubser, ondesteun toe dit twee jaar gelede ingedien is deur HTS.

Die skool het die versoek aan die munisipaliteit gerig juis omdat groepe leerlinge gereeld na die krieket- en hokkievelde langs Middelburg Primary moet stap, of fietsry.

Die dogter is gelukkig nie gister ernstig beseer nie, maar daar is jare gelede ook ’n kind daar doodgery.

’n Motorfietsryer het ook al met sy lewe geboet by die sirkel.

Hoërskool Middelburg hoof, mnr. Johan Stronkhorst, sê dat hulle pro-aktief met skoliervervoer begin optree het na verskeie roofvoorvalle van skoolkinders by die spoorwegbrug.

“Dis eenvoudig te onveilig vir ons kinders om meer te stap,” het hy gesê.

Mnr. Stronkhorst sê dat leerlinge hoofsaaklik deur ouers opgelaai word, en waar daar tekortkominge is, die skool lankal reeds bussies beskikbaar gestel het vir die vervoer van leerlinge.

“As 20 van my 1400 leerlinge nog fietsry of loop na skoolure is dit baie,” het hy gesê.

Mnr. Loubser sê ook dat die oorgrote meerderheid van sy leerlinge nie loop nie, maar dit beteken nie dat die skool nie HTS se oproepe vir beter veiligheid ondersteun nie.

“Ons weet daar is gereeled botsings by die betrokke sirkel, en stem saam dat dit beveilig moet word.”

Mnr. Loubser sê dat hy al twee jaar smeek vir ’n spoedwal in Olifanststraat by Middelburg Primary se kleuterskool.

“Motoriste jaag en talle weet nie mooi hoe die padreëls by ’n verkeersirkel werk nie, die haastigheid van onbedagsame motoriste moet aangespreek word.”

Mnr. Loubser sê hy het simpatie met HTS se leerlinge wat hoofsaaklik in die spervuur is omdat die hokkieveld apart van die skoolgronde is.

HTS se beheerliggaamsvoorsitter, Gerhard Holtshauzen, sê dat ’n amptelike versoek weer twee jaar gelede deur die skool ingedien is by die munisipaliteit om die sirkel te beveilig.

Die skool het voorstelle, soos spoedwalle gemaak, maak tot dusver is daar nog nie gehoor gegee daaraan nie.

DA raadslid San-Mari Wait, wat toevallig self in die area woon, sê sy kla al sedert 2011 oor die sirkel en dat ’n impakstudie ook op haar aandrang, al gedoen is, wat bevind het dat dit nie haalbaar is om ’n stopteken of verkeerslig by dié betrokke kruising op te sit nie.

Stoptekens is wel by ander kruisings in die straat opgesit, te danke aan haar toedoen.

Wat wel gedoen kan word, stel sy voor, is spoedwalle met ’n voetoorgang tussen die walle, wat net weer oorgeverf moet word.

“Daar is amper daagliks botsings, Woensdag ook,” sê sy.

Mnr. Holtshauzen sê hulle sal nou die saak met raadslid Wait opneem om die stryd voort te sit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button