Heilige grond onteer
Die finale spyker is in Botshabelo se doodskis geslaan met die vestiging van ’n rehabilitasiesentrum op die geskiedkundige erfenisterrein.
Die sentrum was eers in Somapepha, Stoffberg se kant toe uit, maar moes noodgedwonge skuif weens swak publisiteit, met verslaafdes wat beweer hulle is aangerand, met kettings vasgebind, met sambokke geslaan en nie gevoed nie.
Pastoor Patrick Simelane, wat agter die stuur van sake staan by die rehabilitasiesentrum, het Botshabelo se naam gekaap, en die sentrum “City of Refuge” gedoop. Botshabelo beteken Plek van Toevlug of Place of Refuge.
Wat meer is, het pastoor Simelane, en die ANC raadslid van Somapepha, Johannes Skosana, nie ooghare vir mekaar nie, wat verder die sentrum se skuif Botshabelo toe genoodsaak het.
Waar inwoners tot dusver nog vreesloos deur die hekke kon ry en verkwikking vir die siel tussen die historiese geboue en natuurskoon kon vind, is Botshabelo nou ’n niemandsland met dwelmverslaafdes wat daar vrye teuels het.
Verskeie van die verslaafdes was al by misdaad betrokke, en in die rehabilitasiesentrum is hulle gestraf met ’n bakoond van tekkie-houe beweer die pastoor, wat ontken dat sambokke gebruik word.
Die omvattende plan sluit egter nie net die rehabilitasiesentrum in nie, wat in die pastorie, wat eens ’n museum was, op Botshabelo gehuisves word.
Volgens die pastoor wil hy die ander geskiedkundige huise gebruik om bejaardes te huisves, en die reuse koshuisgeboue gebruik om weeskinders in te neem.
Dit alles moet natuurlik onder streng goedkeuring, en monitering, van die departement van maatskaplike ontwikkeling geskied.

Gedurende die Kamer van Koophandel en Nywerheid se jaarlikse banket en algemene jaarvergadering, het die kamer se voorsitter, Moeketsi Mpotu, gesê dat ’n loodskomitee so gou as moontlik saamgestel moet word om Botshabelo te red.
“Middelburg het Botshabelo nodig om weer internasionale toeriste na die dorp te lok,” het hy in sy toespraak gesê.
Daar was egter al in die verlede talle ingrypings by Botshabelo, onder andere deur ’n hotelgroep, om die toeriste-aantreklikheid te ontwikkel, maar die eienaars het dit afgeskiet.
Die grond, insluitende die vliegveld is in 2005 aan sowat 1 000 gesinne in ’n grondeis gegee.
Sedertdien was daar soveel binnegevegte tussen die eienaars, dat verskeie howe al ingetree het, deur onder meer die trust se bankrekeninge te sluit nadat meer as R11 miljoen uit Lotto skenkings verdwyn het.
Die trust moes teen einde Januarie vanjaar ’n nuwe bestuur kies, het die hof beslis, maar dit het nie gebeur nie.
Volgens ’n plaaslike prokureur wat vir een van die faksies optree, was daar nooit ’n gesamentlike besluit om die rehabilitasiesentrum goed te keur nie.
“Inteendeel, daar is een van die voormalige trustees wat ’n diktatorskap voer en die rehabilitasiesentrum ingenooi het,” sê die prokureur.
Die prokureur sê dat die meerderheid Botshabelo eienaars nié die rehabilitasiesentrum ondersteun nie, en dat die hof weer genader sal word vir ’n uitsettingsbevel.
Die Kamer van Koophandel en Nywerheid sal ook nou ’n proses aan die gang sit om met die eisers in gesprek te tree.
In die verlede het tot 2 000 toeriste Botshabelo per dag besoek.
Daar word tans sowat 38 dwelmverslaafdes gehuisves.
