Jong vrou aangekeer na huisroof
Dagpatrollie reageer blitsig; verskeie arrestasies na Kanonkop huisrooftog.
Die jong dogter van ’n sake-eienaar is een van die verdagtes wat vandag gearresteer is, na ’n huisrooftog Vrydag in Kanonkop.
Mnr. Arthur Hill van die Dagpatrollie veiligheidsgroep, sê hy het Vrydag, 18 September, om 18:09, ’n oproep gekry om hulp te verleen na ’n gewapende huisroof in Vygiestraat. Dieselfde straat waar die Hervormde Noord Kerk geleë is.
“Ons reaksie spanne was binne minute op die toneel en het begin om die omgewing te fynkam.”

Die slagoffers het kameras by hulle huis wat nagegaan is om die aanvallers te identifiseer.
Die huiseienaars is nie geïdentifiseer nie en dit is ook nie bekend of hulle enige beserings opgedoen het nie.
Twee verdagtes en ’n voertuig wat tydens die rooftog gebruik is, kon op die videomateriaal gesien word.
Die selfde voertuig is vandag, 20 September, in Lilian Ngoyistraat opgemerk en tot in Seringstraat gevolg, waar ’n jong vrou gearresteer is. Daar is ook op die voertuig beslag gelê.
Met die hulp van informante is verdere inligting opgevolg.

Die tweede verdagte is binne ’n kompleks in Mineralia aangekeer, terwyl ’n vuurwapen wat vermoedelik in die rooftog gebruik is, op beslag gelê is.
In nog ’n deurbraak is ’n derde man gearresteer.
“Die belangrikhheid van kringtelevisie, geduld en spanwerk, is wat Dagpatrollie in staat gestel het om binne 48 uur die verdagtes op te spoor en toe te sluit,” het mnr. Hill gesê.
Die verdagtes se name is aan die Middelburg Observer bekend, maar mag nie gepubliser word voordat hulle in die hof verskyn het nie.