News

Solidariteit vereer maatskaplike werker

’n Maatskaplike werker, tel onder die 12 bekroondes in hul beroep wat deur Solidariteit as “hoopdraers” vereer is.

Janetta Uys (’n Belfaster) is op 19 Maart, op Internasionale Maatskaplikewerkersdag, met die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk se #Hoopdraer-toekenning vir hulle toewyding aan hulle beroep beloon.

Yvette Erasmus, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, sê dit is baie belangrik om erkenning te gee aan diegene wat in die beroep uitstaan.

“Vir maatskaplike werkers is hulle beroep nie bloot ’n werk nie; dit is ’n roeping. Om hierdie toewyding te huldig, het die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, maatskaplike werkers vir die derde agtereenvolgende jaar met die Hoopdraer-toekenning vereer,” sê Erasmus.

Sy verduidelik hoe die ontvangers van hierdie toekenning aanvanklik deur lede van die publiek genomineer is as mense met ’n passievolle toewyding aan die bevordering, herstel en verbetering van maatskaplike funksionering in hulle gemeenskappe.

Erasmus beskou maatskaplike werkers as die “stil bouers van hoop” in ons samelewing. “ Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk beskou dit as ’n eer om hierdie toekenning aan maatskaplike werkers toe te ken, aangesien hierdie beroepsnetwerk die unieke toewyding en passie wat maatskaplike werkers vir hulle werk toon, opreg waardeer. Selfs te midde van die uitdagings van ’n swaar werkslading en emosionele uitbranding, bly maatskaplike werkers vasbeslote in hulle strewe om ’n positiewe impak op die beroep te maak,” sê Erasmus.

Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk se funksie is ook om die beroep en sy netwerklede met mekaar te verbind, om die beroep te bevorder en ook om as waghond die beroep se belange te beskerm.

Volgens Erasmus het die publiek soms ’n wanpersepsie van maatskaplike werkers en is dit ook die Maatskaplikewerkersnetwerk se plig om persepsies oor die beroep se status te verander

“Maatskaplike werkers moet die relevante wetgewing ken om hulle werk te kan verrig en natuurlik word hulle ook emosioneel uitgedaag terwyl hulle probeer om ander se lewens te verbeter. Die onwrikbare roeping wat hulle het om ’n verskil in die lewens van ander te maak, is iets wat almal se bewondering verdien,” sê Erasmus.

Benewens Janetta Uys het Suzanne van Deventer en Claudia-Lee Hunter, Solidariteit se twee Pretoria-beroepsnetwerklede, en Nuansa Vogel van Klerksdorp, ook toekennings ontvang.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button