Miljoene liters rou riool stroom na damme
Dink maar twee maal voordat jy kraanwater drink waarsku Hendrina boer Samuel de Lange wat sê dat miljoene liters rou riool al die afgelope maand in die Klein Olifantsrivier by Hendrina by die dorp se rioolwerke inloop.
Die stroom rou riool besmet die rivier nadat twee transformators vier weke gelede by die Hendrina rioolplaas gesteel is.
Nou is daar geen krag by die rioolaanleg nie en Eskom weier om die transformators te vervang, omdat dit geplunder word sodra dit herstel is.
Mnr. De Lange, wat ’n kudde van meer as 300 beeste het, sê sy diere drink die water.
Die besoedelde water stroom Middelburg toe, en vandaar na Loskopdam.
“Om nie te praat van die reuk nie!”.
Volgens mnr. De Lange sit daar dag in en dag uit vier werkers.
“Hulle doen eenvoudig niks want, een daar is nie krag nie, en twee hoe stop jy die see riool met jou hande?” sê mnr. De Lange.
In Julie verlede jaar het hy dieselfde oorgekom toe munisipale werkers gestaak het.
Die invloei riool na sy plaas was so erg dat hy slote langs sy grensdraad moes grawe om die riool te help keer.
“Dis ’n ramp en niemand weet daarvan nie,” sê hy.
Die rioolaanleg is op sy grond gebou, so hy het eerstehandse kennis van die eintlike krisis.
“Ek kan van my stoep af sien dat daar eenvoudig niks gedoen word nie.”
Daar was ook al ’n sterfte by die aanleg nadat ’n kontrakteur in die rioolaanleg geval het.
Mnr. De Lange sê dat die hele Hendrina, Kwazamokuhle en informele nedersettings se riool tans deur sy plaas loop.
“Dis beslis nie goeie nuus vir Middelburg en sy mense nie, dis julle drinkwater.”
Hendrina se VF+ raadslid, Corrie Wolmarans, het dit dadelik by die munisipaliteit aangemeld, en sê hy sal nie rus tot die munisipaliteit aandag daaraan gegee het nie.
“Dis jammer dat ek nou eers daarvan te hore kom,” het hy gesê.
Munisipale bestuurder Mandla Mnguni kon nie bereik word vir kommentaar nie.
Verskeie plase word deur die besoedeling geraak.