News

Vrees na verdwyning van Sodwana skipper

Sodwana, die landelike kusdorpie, is ’n gewilde bestemming onder hengelaars, en die plaaslike Mynmanne Hengelgroep was toevallig daar toe die gewilde skipper, John Matambu, verdwyn het.

Nou wil ’n hengelaar ander booteienaars waarsku om versigtig te wees oor wie hulle op hulle bote toelaat, na die verdwyning van Matambu.

Die soektog na Matambu is nou al in sy vierde dag, en ’n persoon van belang word deur die polisie gesoek nadat hy glo bebloed in Mosambiek aangekom het.

Al raak die saak rondom Matambu se verdwyning al hoe meer geheimsinnig en ten spyte van een man se angs, voel Middelburg se diepsee hengelgemeenskap nie dat daar rede is om te vrees of dat dit die diepsee hengelbedryf sal knou nie.

Mnr. Marius de Vos van die Albatros Diepsee Hengelklub, wat self blyplek het in Sodwana en Matambu ken, was toevallig saam met die Mynmanne na Sodwana vir hulle jaarlikse hengeltoer.

“Ons was die week voor sy verdwyning daar, en het die Saterdagoggend van sy verdwyning vertrek, so ons was nie deel van die soektog nie.”

Marius wou nie verder kommentaar lewer rondom die saak waaroor daar reeds al so wyd gespekuleer word nie, maar voel dat dit ’n geïsoleerde voorval is, en daar nie rede is tot paniek nie.

“Daar is seker tog ’n element van risiko onder boothuureienaars, en Matambu se verdwyning dien as ’n sterk waarskuwing wie jy op jou boot toelaat en wat hulle in hulle bagasie het.”

• Die polisie soek nou na die man wat die jag by Matambu gehuur het en glo hy kan help met die ondersoek.

Die man wat deur die polisie gesoek word

Hoewel sy identiteit nie amptelik bevestig kan word nie, word daar beweer dat sy naam Frederik Thomas Visser is, en dat hy van Komatipoort afkomstig is.
Hy gebruik ook glo die alias, Andre Cilliers of Adriaan Coetzee.

Volgens boodskappe wat tans die rondte doen, was die man in Sodwana omgewing opgemerk en het hy aan mense gesê dat sy motorfiets in die duine naby 7 Mile onklaar geraak het. Die vermoede bestaan dat hy die grens wou oorsteek.

Hy het daarna verskeie skippers genader om ’n huurjag te reël, maar is weggewys tot Matambu uiteindelik ingestem het.

Visser het ook na bewering gesê dat hy ’n breingewas het, en dat sy laaste wens is om vir ’n paar uur saam met sy vrou en dogter op die see uit te gaan.

Hy het egter op die dag alleen opgedaag, en vir ’n hele ruk tussen die bosse gewag op die rand van die strand eerder as om die lanseerarea te nader.
Hy het na bewering van daar af gebel en gesê hy sal eers nader gaan as die boot in die water is.

Dit is bevestig dat hulle op Island Rock vasgemeer het, maar ook dat die boot deur mense naby ’n oord langs die kuslyn gesien is ’n verdere tien kilometer, en dat Matambu se selfoon in die see gegooi is.

Die uitgebrande boot is Sondag op die strand in Dobela gevind.

Die verdagte is op pad na Ponta Mamoli deur verskeie soekgeselskaplede gesien, en het die nag by ’n hut in ’n nedersetting deurgebring.

Enigiemand met inligting of wat kan help in die soektog na die verdagte of Matambu word gevra om die Mbazwana Polisiestasie te kontak by 035 571 0005.

John Matambu se uitgebrande boot is op die strand in Dobela gevind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button