News

Om ’n boek te skryf en wat daarna gebeur…

Elke mens het ’n storie.

Party het interessante stories.

Ander doodgewone stories.

Elke mens wil een of ander tyd sy storie vertel.

Baie wil ’n boek skryf.

So het wederhelf al gesê sy wil ’n boek skryf: “The wife of an Editor”.

Dikwels daag mense by die kantoor op wat hulp soek om ’n boek te skryf.

Daar was al ’n tante wat geglo het sy het ’n roman beet wat Chris Karsten se boeke na ’n skoolopstel laat lyk.

Hoe meer ons verduidelik het van kostes en hoe moeilik dit is om ’n boek te publiseer, hoe meer hardkoppig het sy geword.
Teen haar man se wil het sy die boek uitgegee en haar ou bietjie pensioengeld in die water gegooi.

Twee boeties het op ’n dag by die kantoor ingestap om die een se verhaal te vertel van top rekenmeester, weeldehuis en sy donker wêreld van dwelms en hawelose.

Hulle het gemeen dit was ’n boek werd.

Voordat die verhaal in boekvorm gestalte kon kry, is die boetie dood.

Publiseer nou my derde boek: “Ink is dikker as bloed”.

Moet die laaste paar weke gereeld hoor, “gaan jy vir my ’n boek skenk?”
Wil dan terugkap, “gaan jy my drukkoste betaal?”

Die 120 stories in die boek het vier jaar gevat om te voltooi.

Toe daar vir kwotasies gevra word vir 500 boeke het dit gewissel van R238 000, R85 000 in Kaapstad en R99 000 in Pretoria.

Het die Pretoria kwotasie van uiters professionele drukkers aanvaar.
Ja, R99 000.

Dit is uitgesluit die kostes van proeflees, tel nog R8 000 by.
Bekendstellingsaand, nog R10 000.

Die vraag is: “Waarom nie ’n uitgewer kry nie?”

Die uitgewersbedryf in Suid-Afrika is ’n ontoeganklike baantjies vir boeties. Daarom gee al meer mense self boeke uit.

Het my tweede boek se manuskrip, “Jesus is nie net in die hemel nie”, na ’n Lux Verbi in Kaapstad gestuur.

’n Paar weke later stuur Radio Tygerberg ’n e-pos wat die boek se lof besing en vra of hulle voorlesings daaruit kan doen.
Lux Verbi het die manuskrip vir hulle gestuur.

So oneties.

Daar is darem later verskoning gevra.

Maar dit is een voorbeeld.
Daar is baie.

Daar word gesê trou is nie perdekoop nie.
Om ’n boek uit te gee sal jy ’n paar volbloed perde moet verkoop en dalk die plaas.

Dinsdagmiddag daag daar ’n netjiese pakkie by die kantoor op: ”Business Printers – meeting expectations”.
Dit is die eerste kopie van “Ink is dikker as bloed”.

Jy ruik die papier.

Jy voel die glans deur jou vingers gly.

Dit is jou boek.

Die stories en foto’s praat met jou hart.

Op die buiteblad drup ’n traan…

Die baba is gebore, hy is so volmaak…

Alles die moeite werd.

Ek sal vir jou ’n boek gee, verniet, as jy my drukkoste betaal…

@middelburgobserver

Boek oor joernalistiek gaan lesers laat lag en huil “Ink is dikker as bloed” vanaf 5 April te koop teen R299. Bestellings by Tobie van den Bergh 072 220 1568 of tobievandenbergh@gmail.com booklaunch book books tobievandenbergh Middelburg middelburgobserver

♬ original sound – MiddelburgObserver –

Check Also
Close
 
Back to top button