Vrou ernstig beseer in ongeluk
Vier persone, waarvan een vrou wat baie ernstig beseer is, is per ambulans na die Life Midmed Hospitaal geneem na 'n ongeluk omstreeks 16:30 op die hoek van Meyer- en SADC-straat.

Na wat verneem word het die swart VW Golf GTi van die Middelburg Stasie se kant af in Meyerstraat afgery.
Die rooi Mazda het vanaf SADC-straat gekom en het die twee voertuie in die kruising gebots.
Met die impak van die slag is beide voertuie bo-oor die middelman geslinger, waar die verkeerslig in die slag gebly en die Mazda teen ‘n lamppaal tot stilstand gekom het.

‘n Motoris het dwars oor die pad gestop voor die VW Golf, aangesien ‘n vrou in die pad gelê het en hulle wou keer dat aankomende verkeer haar nie raakry nie.
Buiten die ambulans- en insleepdienste het die polisie, verkeer, brandweer en lede van die Noodroep Radiogroep Sektor 3 hulp op die toneel verleen.
Sowat ‘n halfuur later was daar net ‘n paar blokke verder nog ‘n ongeluk op die hoek van Cowen Ntuli- en Bonckerstraat tussen drie voertuie. Buiten skade aan die voertuie, was daar geen ernstige beserings nie.