“Ink is dikker as Bloed” ’n moet vir elke boekrak, beskikbaar vanaf Vrydag
Vir tientalle jong joernaliste wat ge-uhm en ge-ah het vir verskonings oor waarom sekere berigte nie binne spertyd voltooi kon word nie, was daar altyd een oplossing uit Tobie van den Bergh se mond: “As ’n deur nie vir jou oopmaak nie, skop hom oop!”.

En dit is presies wat Tobie gedoen het met sy derde boek wat hyself soos die vorige twee uitgegee het; ’n deur na Middelburg se hart en siel toe oop geskop.
In die boek getiteld “Ink is dikker as Bloed” kry nog ’n mantra van Tobie gestalte, “koerante gaan oor mense,” en in sy vertellinge van 129 stories is daar helde, en skurke, en almal tussenin.
Na 48-jaar, met 44-jaar in die redakteurstoel van die Middelburg Observer en Daller koerante, ken almal vir Tobie en hy ken almal.
Met bykans vyf dekades agter die drukpers is daar min mense wat Tobie se pynlike reguit vrae kon omseil, en dis daardie gawe om die kaf van die koring te skei, wat die vleis aan die bene van sy boek sit.
En dié boek bestaan uit al die lekker en sleg wat joernalistiek vir hom ’n volle lewensmaal gemaak het – die voorgeregte, hoofgeregte en nageregte, met al die bestanddele wat sy skrywerstafel laat kreun het met gesogte toekennings deur die jare.
En as daar ’n boek is waaraan jy skaamteloos kan wegsmul, is dit Ink is dikker as Bloed, wat Donderdag, 4 April, by die Middelburg Buiteklub beskikbaar gestel gaan word met sop en sjerrie.
Vir Tobie was die afgelope 67-jaar gevul met “wonderwerke” wat hom lankal laat besef het dat Jesus nie net in die hemel is, en die duiwel op die aarde nie.
Daar was al talle demoniese aanvalle op hom, veral die afgelope vier jaar met terugflitse van tonele, wat aanleiding gegee het tot die boek.
“Ek het wakker geword in die lykshuis, oorledenes by deure sien instap waar hul die laaste keer uit is,” sê hy.
Hy delf diep, in detail, uit sy geheuevlugte, en sê dat die boek vir talle sal vrede bring, en hoofstukke sal afsluit.
In die boek sal talle geliefde Middelburgers “weer leef,” na ’n seisoen van dood met Covid-19 wat ook vir die drukmedia nuwe uitdagings gebring het. Maar vir Tobie het elke tragedie ’n saadjie wat soms met vuur en vlam moet ontkiem.
In Ink is dikker as Bloed, groei daar ’n boom van “onthou en waardeer” met kragtige takke van diegene waaroor daar geskryf word.
’n Eg Suid Afrikaanse boek, wat nasionale en internasionale nadraaie gaan hê, met bestellings van so ver as Sjina wat reeds instroom.
“’n Kleinood vir my mense,” is hoe Tobie self sy boek beskryf.
Ink is dikker as Bloed strek natuurlik oor talle dekades, en veral politieke figure en lede van geheime organisasies met selfbeskikkingsagendas, sal hulself herken in die blaaie, tesame met sportsterre en Jan en Alleman.
Daar is eenvoudig te veel mense, en hul dinge, om op te noem sonder om ’n “Spoiler-alert” saam met die rubriek te plaas.
Dit is egter nie die laaste hoor of sien van die merkwaardige man met ink in sy are nie, en meer kan uit sy pen verwag word, maar eers lê daar ’n twee weke vakansie na die boekbekendstelling voor.
“Soos my kantoordeur die afgelope 44-jaar, is my huisdeur ook oop,” nooi hy.
Die boek beslaan onder meer 320 blaaie met meer as 200 fotos, insluitende sy eerste voorbladfoto.
• Die boek is vanaf 5 April by BT Boeke te koop teen R299 asook eksemplare van sy vorige boek “Jesus is nie (net) in die hemel nie” teen R99.
Hy kan by 072 220 1568 geskakel word vir boekbestellings en aflewerings.