News

‘Here se Hand was oor my’

Chantelle Botha glo die Here het haar Saterdagmiddag tydens die ernstige ongeluk op die hoek van Meyer- en SADC-straat beskerm.

“Die Here se Hand was oor my.”

Sy het vanaf Stoom Pub & Grill by die Middelburg Stasie gery om by OK Grocer in Meyerstraat ys te gaan koop.

Chantelle onthou dat die verkeerslig rooi was en dat sy gewag het vir die lig om groen te word.
Die oomblik toe hy na groen oorslaan, het sy begin oorry.

“Alles het in ’n breukdeel van ’n sekonde gebeur!”

Sy het die rooi voertuig, wat van die linkerkant af gekom het, vir ’n vlietende sekonde gesien en haar gesig weggedraai, waarop sy met haar hande gekeer het vir glasstukke in haar gesig.

Na die ongeluk, waartydens haar swart VW Golf GTI en die rooi Mazda oor die middelman geslinger is, het sy weens skok uit die voertuig geklim.
Daarna onthou sy nie veel nie, aangesien sy kort-kort haar bewussyn verloor het.

Hannes en Hugoline Roos het kort na die ongeluk op die toneel afgekom en die vrou gesien wat in die pad gelê het.
Hy het sy voertuig dwars oor die pad gestop, sodat voertuie nie vir Chantelle kon raakry nie. Hugoline het die verkeer aan die ander kant gekeer.

Chantelle en haar vriendin wat by haar in die voertuig was, is na die Life Midmed Hospitaal geneem, waar haar vriendin na behandeling ontslaan is.
Chantelle noem dat sy eers in die hospitaal tot haar sinne gekom het.

Sy is wel opgeneem, maar het haarself ontslaan omdat sy nie ’n mediese fonds het nie.

Chantelle se ribbes is gekraak en haar knieligamente is geskeur. Sy noem dat haar armbande ook in haar arm ingesny het.

• Chantelle wil graag vir Hannes en Hugoline, die paramedikuste van ER24 en haar verloofde, Theo Petzer, van harte bedank vir hul hulp en ondersteuning.

• Die insittendes van die Mazda het nie ernstige beserings opgedoen nie. Die selnommer wat een van die insittendes op die toneel verskaf het, is gebel, maar die foon was af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button