News

Sosialemedia aan’t gons oor beweerde Life Midmed nalatigheid

Me. Alida van Straaten het geen grap gemaak toe sy op sosialemedia platforms gesê het dat sy Life Midmed Hospitaal “famous” gaan maak weens die swak behandeling wat haar sterwende pa by die eens spog hospitaal ontvang het nie.

Sy sê dat haar pa sterwend is aan fase vier blaas en longkanker “maar uit die intensiewe sorgeenheid geskuif is ten spyte daarvan dat hy 24-uur mediese sorg vereis.

’n Ander inwoner sê ook dat haar ma soos in me. Van Straaten se pa se geval, uit die intensiewesorgeenheid oorgeplaas is na ’n gewone saal, net om te sterf.

Die oorledene was agt weke op ’n asemhalingsmasjien, wat verwyder is, voordat dit noodgedwonge weer ingespan moes word nadat die oorledene se longfunksie verswak het in saal een van die hospitaal.

Die vrou sê sy het kapsie gemaak teen haar ma se skuif saal een toe, “omdat ek nog net rillerstories van die saal gehoor het.”

Volgens die klaer het feitlik almal in saal een ernstige longinfeksies wat onder ander pasiënte versprei, omdat lugversorgers nie werk nie, en vensters oopgelos word vir ventilasie.

Sy sê dat hospitaal bestuur aan haar erken het dat beeldmateriaal wat nagegaan is nadat haar ma saal een toe geskuif is, gewys het dat personeel op TikTok op hul selfone speel, en dat sy self gesien het hoe ’n verpleegster laataand op ’n rekenaar by die saaltoonbank speel.

Toe die bejaarde vrou terug geplaas is op die asemhalingsmasjien, was haar koolstofdioksied telling 80%.
“Dit was verkriklik om my ma te sien versmoor,” sê die klaer.

Die bejaarde vrou is na saal een geskuif, wetende dat sy na haar hospitaal behandeling boonop nie sou kon huistoe gaan nie, maar na ’n rehabilitasiesentrum oorgeplaas sou moes word.

Die vrou is dood met ’n gapende bedseer wat verkeerd op die pasiënt se lêer aangeteken is.

Me. Van Straaten sê weer dat haar pa “brandboude” opgedoen het omdat sy doek nie gereeld genoeg geruil word nie.

Sy sê dat haar kankerlyer pa lê op ’n doek sonder linnebedekkers, wat nie beskikbaar is nie.
Sy matras is gereeld sopnat en dat hy ook reeds bedsere op sy rug begin opdoen het waar die sug al uitloop.

Hy is op een stadium gevind waar hy heeldag sonder voeding gelê het nadat die voedingsbuismasjien nie ingeprop was nie.

“Ek is woedend verby,” sê sy.

Haar plasings oor haar pa se behandeling is al honderde maal op sosialemedia gedeel.

Sy sê sy gaan die hospitaal nou by die mediesedonds en medieseraad aangee vir ondersoek.

Op slegs een van me. Van Straaten se plasings is die klagte al meer as 700 keer gedeel met bykans 200 kommentare, onder andere van Chanel la Grange wat sê haar man moes haar Witbank toe jaag met ’n gebreekte arm, nadat sy geen hulp by die hospitaal se ongevalle kon kry nie.

Die ongevalle funksioneer afsonderlik van Life Midmed.

Tientalle ander ernstige bewerings word teen die hospitaal en sy personeel in die kommentare gemaak wat op Facebook gesien kan word.

Life Midmed se kommunikasiebeampte, Helani Nel, het op versoeke vir kommentaar gesê dat bestuur reeds met beide families gesels het en geen verdere kommentaar het nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button