Ink is dikker as Bloed tref Middelburg soos tornado
Lesers, en diegene wat nie lief is vir lees nie, sal beide geboei wees deur die voormalige redakteur van die Middelburg Observer Tobie van den Bergh se boek getiteld: 'Ink is dikker as Bloed'.
Die lekker leesboek handel oor Tobie se bykans vyf dekades se ervaringe as redakteur van een van die land se grootste gemeenskapskoerante.
Dit beslaan 129 kort en kragtige verhale oor mense met wie Tobie te doene gekry het oor die jare, wat selfs vir sku lesers genot sal bring.
Die boek is gisteraand in die teenwoordigheid van meer as 200 gaste by die Middelburg Buiteklub onthul.
Die aand is onder meer bygewoon deur befaamde joernalis van die Sunday Times en outeur van die gewilde rugby-boek “Onkant!” Hendrik Hancke, wat tydens die bekendstelling ’n onderhoud in die teenwoordigheid van gaste met Tobie gevoer het.
Tobie se geliefde kleinkinders, die tweeling Calvin en Lianke, was ook teenwoordig vir hul oupa se nuutste boekbekendstelling, die derde boek uit sy pen.
Tobie het gaste aan sy lippe laat hang met uittreksels uit die boek, wat lesers sal laat lag en huil.
Die boek is van vandag by BT Boeke te koop teen R299, asook eksemplare van sy vorige boek “Jesus is nie (net) in die hemel nie” teen R99.
Hy kan by 072 220 1568 geskakel word vir boekbestellings en aflewerings.
@middelburgobserver Ink is Dikker as Bloed onthul – die derde boek van voormalige redakteur, Tobie van den Bergh, was gisteraand bekend gestel en kom met die waarborg dat dit jou sal laat lag en huil. #Middelburg #Tobievandenbergh #inkisdikkerasbloed #boekbekendstelling #booklaunch
