Skone Lily onder top 10 van Huisgenoot Mej. Tiener
Die beeldskone Lily Mtsweni het die Huisgenoot beoordelaars oorrompel met haar fantastiese inskrywingsvideo wat haar in die top 10 finaliste van die Huisgenoot Mej. Tiener 2024 laat beland het.
Dié HTS Middelburg matriekleerder het nou, meer as ooit die dorp se stem nodig om haar toekomsreis ná Regte, die nodige hupstoot te gee.
Lily se lewensverhaal is ’n uitsonderlike een van volharding, uithou en die uitstyg bo haar omstandighede.
Die eerste uniekheid rondom Lily is dat sy twee ma’s het.

Lily se biologiese ma, Martha Mtsweni, werk jare lank as huishulp vir die Van den Berg gesin, en Martha het tydens haar swangerskap vir Ena van den Berg genader omdat sy nie haar baba wou wegstuur om by haar ouma te gaan bly nie.
Daar is besluit dat Lily saam met Martha en die Van den Berg gesin gaan bly, en so het sy vinnig in hul harte ingekruip en deel van die gesin geword.
Ena en haar dogter, Lené, se invloed het bygedra tot Lily se prestasie in redenaars, en sy het al drie keer die top drie gehaal van die Nasionale ATKV Redenaars finaal.
Ena sê dat Lily nie voorheen aan skoonheidskompetisies deelgeneem het, behalwe die Mej. HTS kompetisies nie.
Beide sy en Lily was egter só beïndruk met die onskuldige en rein wyse waarop die Huisgenoot Mej. Tiener bestuur word, dat hulle met die hulp van Andries du Preez, op die aand van die afsluitingspunt, besluit het om in te skryf.

“Ons wil net baie dankie sê aan Andries du Preez, wat Lily soveel leiding gegee het. Selfs al wou ons nie aanvanklik hê dat sy moet deelneem aan skoonheidskompetisies nie, het hy vir haar ’n plek geskep.”
Ena vertel dat Lily droom om volgende jaar regte te studeer en dat die Huisgenoot skoonheidskompetisie blootstelling sal gee om by haar droom uit te kom.
“Buiten vir die prysgeld wat sal bydra tot haar studiebefondsing, en die heerlike vakansie wat op die spel is, glo ek dat hierdie geleentheid vir Lily sal leer om eendag met selfvertroue in haar loopbaan te kan staan.”

Ena is oortuig dat Lily uitgeknip is om regte as beroep na te streef.
“Sy is ’n dinamiese engel wat die lewe aangryp, en gebruik maak van die geleenthede wat die lewe aan haar verleen. Haar karakter is van so aard dat sy werklik bo haar omstandighede uitstyg en opstaan vanuit haar teleurstellings. Sy het ook ’n ongelooflike oortuigingsvermoë en ’n diep, diep passie om onreg vas te vat en minderbevoorregte kinders te help. Sy droom ook om eendag vir haar ma te kan sorg.”
• Lily volg in die voetspore van haar tweede ma, Ena, wat tans as kommissaris dien vir die klein-eise hof. Sy is ’n voormalige landdros en ’n toegelate advokaat.
Inwoners word aangemoedig om vir Lily Mtsweni te stem, en kan die volgende skakel besoek om hul merk te maak:
