Vermeende dief vinnig vasgetrek
’n Dief wat nie net solarpanele nie, maar ook stoele gesteel het, is blitsig deur reaksielede van Titon Sekuriteit en Alarms vasgetrek.
Reaksielid Martin Meintjes sê hulle het Sondag net na 08:00 ’n alarm gekry by Gibbs & De Jager Prokureurs.
Hy en ’n kollega het soontoe gejaag, maar die booswig wat die alarm laat afgaan het, was reeds weg.
Die oomblik toe hulle straataf kyk, het hulle gesien hoe ’n verdagte oor ’n muur spring, met vier groen stoele in sy arms.
Die reaksielede het hom dadelik agternagesit en op die hoek van Wes- en Hoopstraat vasgetrek.

Hulle het die sak deursoek en afgekom op solarpanele.
Minute later het die eienaar van die vier stoele, wat gesteel is in Hoopstraat, opgedaag en die stoele geïdentifiseer.
Daar is later ook bevestig dat die solarpanele by Gibbs & De Jager Prokureurs gesteel is.
• Given Mathebula het Maandag vlugtig in die hof verskyn en die saak is uitgestel tot ’n latere datum.
