News

Begraafplaas nie meer plek van rus

Grafte by die Samora Machelstraat begraafplaas word gevandaliseer en sommige mense voel nie meer veilig daar nie, omdat haweloses en verslaafdes bedags daar rondsluip en ook daar slaap.

Gerda Doman het haar ontsteltenis uitgespreek oor hul familiegrafte wat beskadig is en Elize Potgieter sê die munisipaliteit hou dit nie meer so netjies en skoon soos altyd nie.

Gerda het hartseer gesê dat daar op haar oorlede man, Gert Jansen van Vuuren (in 2008 oorlede) se graf ’n bokkie was.
“Iemand het die bokkie afgeskop en het my broer, Sankus, dit so gekry. Hy het die bokkie weer teruggesit.”

’n Ruk gelede het kwaaddoeners die perd-grafsteen van hul ander broer, Gert, en sy naamgenoot seun se gesamentlike graf ook afgebreek. Die twee is binne maande van mekaar af in 2007 oorlede.

Die bokkie op Gert Jansen van Vuuren se graf is afgeskop en moes die familie dit weer terugsit.

“Hulle het die heining om die grafte afgesteel, asook al die plante. Die grafte is nou heeltemal leeg.”

Sy het na haar man en Gert junior en senior se afsterwe die hele gedeelte waar die grafte is, uitgekoop.
“’n Mens kry net skade by die grafte!”

Elize het vroeër jare gereeld na hul familiegrafte gegaan om blomme op die grafte te sit.

“Ek ry nou net deur, want ek voel nie veilig nie. As ek so by my man, Pottie (oorlede 22 Julie 2020), se graf gestaan het, kon ek my seuns en die ander se grafte sien.”

’n Mens kan duidelik sien waar die perdekop afgebreek was van Gert Smit junior en senior se graf.

Sy het omgekrap gesê dat hulle tydens Le-anne Toüa-Potgieter se begrafnis in Maart “letterlik oor die ongelyke grond en vullis moes klim. Die botteltjies water wat die mense drink tydens begrafnisse lê ook oral rond.”

Buiten haar man, is daar verskeie ander van haar gesinslede daar begrawe, wat insluit: beide haar seuns, Pieter (13 April 2013), Michael (13 November 2016), skoonseun Rudi Botha (10 Junie 2017) en sy pa, Flip (26 Desember 2016).

• Christine de Wet besoek haar man, Kiewiet, se graf gereeld. Sy het al in Januarie gekla dat die grasperke by ons eens pragtige begraafplaas nie gereeld gesny word nie en dit nie skoongehou word om die grafte nie.

• In die laaste twee jaar is daar sporadies ook geskryf oor kwaaddoeners wat die nissies oopruk en die as uitgooi by die gedenkmuur in die begraafplaas.

Back to top button