News

Rowers brand los op Van Wettens trokdrywers

'n Groep rowers het vanoggend net na 03:00 op trokdrywers geskiet en 'n insleeptrok van Van Wettens geroof.

“Ons is gekaap!” het een van die slagoffers per selfoon geskree nadat hy losgekom en agter op een van die trokke gespring het om hulp te ontbied.

Louwtjie Swart (Van Wettens Insleepdienste) het pas van die traumatiese gebeure vertel.

Hy het gemeld dat die twee Van Wettens trokdrywers, asook die trokdrywer van hul kliënt ook erg aangerand is en dat hulle die beseerdes hospitaal toe gaan vat, sodra die polisie klaar hul verklarings geneem het.

Van Wettens Insleepdienste is in die vroeë oggendure ontbied na ‘n grondpad tussen Hendrina en Komati Kragstasie waar ‘n trok onklaar geraak het.

Hulle was besig op die toneel, toe ‘n Quantum bussie by hulle stop en ‘n groep rowers met handwapens op hulle losbrand.

Niemand is raakgeskiet nie, maar die rowers het die trokdrywers oorval, aangerand, vasgebind en hulle beroof van al hul persoonlike besittings, waaronder hul selfone.

Die rowers het egter nie agtergekom dat een van Van Wettens se trokdrywers ‘n tweede selfoon aan hom gehad het nie.

Die oomblik toe die rowers hul rug draai, het hy homself losgewoel, agterop die kliënt se trok gespring en Van Wettens se Middelburg takbestuurder, Magda Pretorius, gebel.

Hy het vir haar gesê hulle is gekaap en het sy dadelik vir Louwtjie Swart laat weet.

Louwtjie is nie net verbonde aan Van Wettens nie, maar is ook in beheer van Traffic Alert.

Louwtjie het op noodgroepe, waaronder Mpumalanga Veiligheid, van die gebeure laat weet. Mpumalanga Veiligheid het die woord oor die gebeure verder versprei.

Louwtjie, Dieter Coersmeier en Jan Gouws, het op hul beurt na die toneel gejaag.

Sowat 20km vanwaar die trok geroof is, op die Middelburg/Bethalpad, het die driestuks van Van Wettens gesien dat die trok van voor af kom.

Die insittendes van die trok het die ligte van die aankomende voertuig van Van Wettens gesien, waarop hulle die trok tot stilstand gebring, uitgespring en die nag in verdwyn het.

  • Dit is op hierdie stadium onduidelik hoeveel booswigte deel van die rooftog was.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button