News

Pofadder pik vinniger as ’n oogknip

Moenie probeer om ’n pofadder te vang nie, want hy gáán jou pik en jy kan dalk jou vinger of selfs jou hand verloor!

Victor Boshoff (LimPuma Herpetologiese Vereniging) het na aanleiding van die stories waar pofadders ’n vrou en ’n hond gepik het, inligting verskaf oor hoe om dié gevaarlike slang te vermy.

Victor sê hy het self die afgelope paar weke nege pofadders net in Dennesig in die omgewing van Harry Gwalastraat gevang.
“Slange vlug nou na huise om slaapplek te soek vir die wintermaande. Veral pofadders is nou volop.”

Victor meld dat alhoewel dié slang vet en lui lyk, is dit een van die gevaarlikste slange in ons omgewing.
Volgens hom is die pofadder een van die slange wat die vinnigste pik.

“Hy pik vinniger as wat jy jou oog kan knip. Hy is een van die vinnigste pikkende slange in die wêreld!”

Victor noem dat ’n pofadder verder deur sy eie vel kan pik as jy hom agter die kop vat. ’n Mens kan hom ook nie aan sy stert vat nie, want hy kan teen sy stert opkom en jou pik.

Die gif is uiters sitotoksies en dit voel asof jy jou ledemaat in kookolie druk wanneer dié slang jou pik!”

Weefselskade begin dadelik intree en moet die pasiënt so gou as moontlik behandeling kry.
In ernstige gevalle kan ’n pasiënt selfs ’n ledemaat verloor.

Teengif moet vinnig toegedien word.

“As ’n volwassene wat deur ’n pofadder gepik word, nie antiserum kry nie, kan hy binne ses tot agt ure sterf.”

Moenie slang probeer identifiseer

Victor sê as iemand gepik is deur ’n slang, moet die slagoffer of wie ookal by hom is, nie probeer om ’n foto te neem van die slang nie.
“Jy is volgende wat gepik gaan word!”

Victor meld dat hy oral hoor dat mense agter slange probeer aangaan om die slang te probeer identifiseer as iemand gepik is.

“Vergeet van die slang! Kom by ’n hospitaal uit. Deur net die bytplek te sien, sal ons weet watter slang jou gepik het.”
Boonop het hy gemeld dat vir bykans ál die giftige slange dieselfde teengif, polivalente teengif, toegedien word.

Slegs vir die giftige boomslang word ander antiserum, monovalente teengif, gebruik.

• Sowat ’n jaar gelede was daar ’n ernstige tekort van teengif in die land.

Victor het egter aangedui dat die probleem egter nou iets van die verlede is en dat daar genoeg antiserum in beide die Life Midmed Hospitaal en die Middelburg Hospitaal is.

• Die lede van die herpetologiese vereniging is goed opgelei om pofadders en ander giftige slange in ons omgewing te vang.

Sou daar ’n slang in jou tuin of huis wees, skakel Victor (voorsitter) by 082 697 9954, Mark Salzwedel (ondervoorsitter) by 082 898 5242, Bernard van den Berg by 082 769 0227 of Jan Kruger by 084 082 4710.

As hulle nie in die hande gekry kan word nie, kan die brandweer gekontak word. Victor het self die brandweerlede opgelei om slange te vang.

• Lees in die Vrydag uitgawe van die Middelburg Observer die hartseer verhaal van ’n beeshondjie wat sy lewe opgeoffer het, om ’n pofadder aan te val wat sy eienaar wou pik.

Back to top button