Mans in silwer VW Polo beroof afleweringsman van selfone
’n Afleweringsman is vanoggend met handwapens aangehou en van ten minste tien selfone beroof, waarna die rowers in ’n silwer VW Polo sonder nommerplate gevlug het.
Volgens Jacques van Niekerk (Gemeenskap in Blou) het hy kort voor 09:00 ’n oproep gekry van ’n vrou wat gesê het dat die persoon voor in die straat byna gekaap en beroof is.
Hul tuinier het alles sien gebeur en haar gaan roep, waarop sy vir Jacques gebel het.
Na wat verneem word, het die ongemerkte afleweringsvoertuig in Sandstraat (Aerorand Wes) by ’n oprit gestop en ’n selfoon afgelewer.
Hy was besig om in trurat uit te ry, toe die silwer VW Polo agter hom stop en hy noodgedwonge sy voertuig tot stilstand moes bring.
Twee mans met handwapens het uitgespring en in Engels vir hom geskree dat hy nie vir hul gesigte mag kyk nie.
Met die wapens op hom gerig, is hy gedwing om die voorraad selfone wat in die voertuig was, aan hulle te oorhandig. Kort daarna het hulle in die Polo gespring en weggejaag.
Jacques was binne minute op die toneel en is die polisie ook gekontak, maar die booswigte was reeds weg.
