News

Bipolêre vrou moet in koue water bad by staatshospitaal

Familie bring warm water van hul huise af, sodat pasiënte net kan bad.

’n Plaaslike man wat rasend is van bekommernis oor sy vrou wat in die Middelburg Hospitaal lê weens ’n bipolêre terugslag, sê dat die instansie “mense wat hulp soek, net breek.”

*Johnny (ware identiteit word weerhou) sê dat sy vrou verlede Dinsdag opgeneem is weens ernstige depressie en angsversteuring.

Sy is reeds as bipolêr gediagnoseer, maar het verlede week ’n emosionele terugslag gehad, en is in die hospitaal opgeneem.

Johnny is vol lof vir die dokters, en sê sy vrou ontvang goeie behandeling, maar dat die res van die personeel, veral verpleegpersoneel en sekuriteit, “bloot kyk hoe ver hulle ’n mens kan dryf voordat jy knak.”

Kla mens, dan word jy nog slegter behandel, sê Johnny, wat bylas dat selfs ’n dokter vir hom gesê het dat hy nie sy eie familie in die hospitaal sal laat opneem nie, weens ’n tekort aan warm water.

“Families bring warm water van hul huise af sodat hul geliefdes net kan bad,” sê Johnny wat ook noem dat die hospitaal selfs ’n tekort aan lakens het, skoon of nie.

Toe sy vrou oor die naweek smeek vir ’n hoofpynpil, is sy glo beveel om terug te gaan kamer toe.

“Die vrou oorkant haar het onlangs só gehuil nadat sy openlik verneder is. Daar is onder andere vir haar gesê sy ‘tjank want sy’s mal,” sê Johnny boos.

“Jy kan maar vir van jou besoektyd ook koebaai sê, want die sekuriteit soek elke verskoning om jou nie in te laat nie,” sê Johnny.

Sy vrou word die week ontslaan en reageer goed op haar medikasie.

Johnny sê dat dit die eerste maal is dat sy van die huis af weggeloop het, wat die hospitaalbesoek genoodsaak het.

• Navrae is aan die provinsie gerig oor die klagtes, veral dat daar nie warm water in die hospitaal is nie, en pasiënte moet smeek vir pynmedikasie.

Teen druktyd was daar egter geen terugvoer nie, net dat die saak ondersoek sal word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button