News

Pieter is ‘n Cum Laude persoon

Die gemeenskap en Laerskool Staatspresident C.R. Swart het hierdie week afskeid geneem van hul geliefde hoof, mnr. Pieter Fouché.

Tydens ‘n besondere funksie by Rustique Boutique Hotel is daar nie net melding gemaak van al mnr. Fouché se kwalifikasies wat hy met Cum Laude geslaag het nie, maar ook van die impak wat hy op die lewens van personeel, ouers, kinders en die gemeenskap gehad het in die jare wat hy betrokke was by die skool.

Ds. Hardus van Niekerk, wat nie net die leraar is van die NG Kerk, Suid gemeente nie, maar ook al jare bevriend is met die Fouché’s, het gese dat “die Here Pieter en Via bymekaar gesit het om mekaar te ondersteun.”

Hy het ook genoem dat alhoewel mnr. Fouché nou uittree, dit nie die einde van sy werk is nie en hy glo dat die egpaar in Langebaan, waar hulle nou gaan bly, ‘n verskil gaan maak.

Hannes en Elize Brits (voor), kuier saam met Willie en Friena Scholtz.

“Dit is die ding van ‘n gelowige, hulle tree nooit af nie, hul roeping word net anders. Ons sien uit daarna om te sien hoe julle roeping herbelyn gaan word.”

Mnr. Etienne Janse van Rensburg het uitgebrei oor mnr. Fouché se kwalifikasies.

Mnr. Fouché het in 1980 gematrikuleer aan Hoërskool Edenvale en daarna vanaf 1981-84 studeer by RAU, nou UJ, waar hy B.com Ed studeer het en gedien het op die studenteraad in 1984.

Riaan en Elize Powell.,

Sy eerste bande met Laerskool Staatspresident C.R. Swart word gesmee in 1981 toe hy as proefstudent begin vir praktiese onderwys onder leiding van mnr. Rassie Erasmus.

Hy is in 1985 aangestel by die skool, maar is weermag toe in 1985 en 1986, waarna hy in 1987 amptelik by die skool begin werk.

Hy doen sy diensplig by Infanterie in Oudtshoorn en voltooi sy offisierskursus in 1985, waar hy oorgeplaas word as vol luitenant as SO by die kadette.

Danie en Corrie Storm en Sterna en Gerrie van der Merwe.

Mnr. Fouché voltooi sy kadet meesterskursus en raak betrokke by kadetorkeste in die destydse Suidoos-Transvaal (Mpumalanga) waar hy beoordeling doen van drilformasies en kadetorkeste tydens kompetisies. Hy was self ook ‘n kranige trompetspeler.

In 1987 begin hy klas gee vir graad viers in Noord-Sotho, biologie, wetenskap en wiskunde.

Hy trou in 1989 met Via (voorheen Kotze), die vriendelike musiekonderwyseres, wat hy by die skool ontmoet het.
In dieselfde jaar wat hulle getroud is, besluit hulle om verder te gaan studeer by die Onderwyskollege vir Verdere Opleiding, met biologie, wiskunde en rekenaargeletterdheid as spesialiseringsvakke.

Ds. Hardus van Niekerk, Johan en Hanlie Swanepoel, Natashja en Gerhard van Vuuren, Wihan en Monica Marx, Danel en Jaques Botha.

Hy voltooi sy studies met Cum Laude en ontvang sy eerste meriete toekenning van die onderwysdepartement.

In 1991 verhoog sy departementele aanstelling van kategorie D na kategorie E en hy groei na vak- en graadhoof.

Mnr. Janse van Rensburg het van al die aktiwiteite vertel waaraan hy deelgeneem het en ook al die pret wat hulle gehad het tydens kampe, waaronder die Voortrekkerkampe, wat onder leiding van die vorige hoof, mnr. Willie Scholtz, aangebied is.

John en Thea Howell.

In 1993 word mnr. Scholtz die nuwe hoof en mnr. Fouché die adjunkhoof saam met mnr. Hennie Venter. Adjunkhoofde het in daardie jare nog skoolgehou en kon hy sy passie vir wiskunde en wetenskap nog laat voortleef.

Hy kwalifiseer daardie selfde jaar as assessor, moderator en mentor by die Noordwes Universiteit,

Op sportgebied was hy as afrigter betrokke by naellope en het gespesialiseer in aflosse.

Hy het groot welslae behaal as rugby-afrigter. Sy eerste rugbyspan was Mpumalanga-wenners en het ook aan die Bondedag deelgeneem. Verskeie spelers van die span is vir die Cravenweekspan gekies.

Renate en Kallie Korb.

Met mnr. Scholtz se aftrede as hoof, het mnr. Fouché aansoek gedoen en word in 2018 die nuwe hoof van Laerskool Staatspresident C.R Swart.

Mnr. Fouché was bekend as die tandtrek-meester, “waar die kinders onder streng kliniese toestande in sy kantoor kom besoek aflê het, die tandjie getrek en die kind dan trots met sy sertifikaat daar uitgestap het.”

Mnr. Janse van Rensburg het gesê dat mnr. Fouché alles wat hy saam met die personeel en beheerliggame aangepak het, “met passie gedoen het.”

Nolene en Raynard Wickham, Eddie en Annerie Bauling.
Pierre en Mandy Roodt.

Onder sy leiding is die nuwe lapa en renostersaal gebou, ekstra netbalbane aangebou, die administratiewe blok en badkamers opgegradeer, die graad R-klasse gevestig, hul terrein ontwikkel, die asbesklasse verwyder en nuwe graad twee en drie klasse gebou, die dreineringstelsel op die A-veld verbeter en die krieketnette gebou.
Boonop het die kleuterskool, die Presidentjies, ook deel van die skool geword.

Mnr. Janse van Rensburg het genoem dat mnr. Fouché altyd positief is en alles met oorgawe gedoen het by die skool.

Mnr. Pieter Fouché en me. Master Skhosana (Kringkoördineerder, Departement Onderwys).

• Me. Master Skhosana (Kringkoördineerder, Departement Onderwys) het vertel van al die positiewe insette wat mnr. Fouché gelewer het vir die departement en ook die invloed wat hy as mens op haar gehad het.

• Me. Liezl Storm (voormalige beheerliggaam voorsitter) het gesê dat mnr. Fouché nie net al sy prestasies Cum Laude verwerf het nie, maar dat hy as persoon ook alles wat hy aangepak het op professionele en op persoonlike vak, met lof gedoen het.

Sy het afgesluit met: “Middelburg se verlies, is Langebaan se wins. Jy was nie gewoon nie, jy was Cum Laude.”

Valecia van Dyk saam met mnr. Fouché.

• Mnr. Fouché het elke persoon, van die kinders waarmee hy deur die jare gewerk het, tot by kollegas, die departement van onderwys en sy familie, bedank wat hom deur die jare ondersteun het.

• Die funksie is bygewoon deur die personeel en beheerliggaam van die skool, huidige en oud-skoolhoofde in en om Middelburg, verteenwoordigers van die Departement van Onderwys, familie en vriende.

• Die geleentheid is afgesluit met die liedjie, “Tussen Treine”, wat vertolk is deur Valecia van Dyk. Die personeel het die koorgedeelte saam met haar gesing.

Die personeel het die koorgedeelte van die liedjie saamgesing.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button