News

Help asseblief – Kakiebos eers in vlamme, nou sonder wiele

Die twee bromponies wat vanoggend kort na 02:00 uit ’n Impalastraat erf gesteel is tydens ’n inbraak, behoort aan Kakiebos Wegneemetes en Kroeg in die industriële gebied, is bevestig.

Die bromponies is beide tydens die inbraak gesteel, ten spyte daarvan dat een stukkend is en nog nie reg gemaak kon word nie, en boonop in swartsakke toegedraai was.

Me. Lucile Bosch-Jones, wat in ’n woonstel op die erf saam haar verloofde woon, sê dat die werkende bromponie die Kakiebos wegneemetes se leeflyn was, nadat die kroeg, winkel en kombuis in Julie laasjaar afgebrand het.

Lees ook:

Kakiebos verrys uit die as

Weens finansiële knyp is Kakiebos deur die personeel self weer herbou, soos geld beskikbaar geraak het, en in September weer heropen.

Die besigheid sukkel nog om na die brand weer op volle dreef te kom, en die diefstal van die bromponies gaan die besigheid sleg benadeel, weens aflewerings wat nie gedoen kan word nie.

Die nuwe bromponie.

• Drie mans het vanmore net na 02:00 die hek na die erf oopgebreek, waarna hulle tot by die woonstel waar die bromponies parkeer was, gekruip het.

Hulle is aanvanklik nie deur die huis se alarmsensors opgetel nie, maar met die uitstoot van die eerste bromponie het die alarm wel afgegaan.
Dit het egter nie die boewe gekeer om met die tweede bromponie ook te vlug nie.

Die span van Kakiebos vra nou hulp uit die gemeenskap.

Met die hoed in die hand vra Kakiebos of daar nie ander besighede in die dorp is wat moontlik vir hulle ’n bromponie kan leen vir aflewerings, totdat genoegsame fondse bekom is om weer ’n bromponie aan te koop.

Die ou bromponie se registrasie.

“Ons moes noodgedwonge die tweede bromponie koop omdat die finansies bloot net nie daar was om die stukkende een reg te maak nie,” verduidelik me. Bosch-Jones.

Nou’s Kakiebos beide kwyt.

Diegene wat wil help, kan die besigheid by 082 316 4288 skakel.

Geldelike donasies vir ’n nuwe bromponie is ook welkom.

“Ons probeer regtig weer opstaan en enige hulp sal waardeer word.”

Die nuwe bromponie se registrasie.

 
Back to top button