KYK: Twee huise binne ure deur dief geteiken
Twee Impalastraat bure in Kanonkop is binne ure van mekaar deur dieselfde dief geteiken.

Mnr. Eugene Strydom, by wie daar 11 dae gelede twee bromponies gesteel is, sê dat daar Woensdag om 05:15, 15 minute nadat hy werk toe gery het, by hom ingebreek is.
Volgens CCTV beeldmateriaal kan een verdagte gesien word wat in die erf rondsluip, en hoe hy daarna ’n stofsuier wegdra.
Mnr. Strydom vertel dat die dief eers by hulle waskamer ingebreek het om die stofsuier te steel, en daarna by die wendyhuis, waar hy ’n kantsnyer, sweismasjien en boor ook gesteel het.
“Daar is die Disndagaand net voor 18:00 by my buurman ’n fiets ook gesteel, en die dief het die oggend daarna by my ingebreek.”
Mnr. Strydom is oortuig daarvan dat dit dieselfde verdagte is wat gesien kan word op die beeldmateriaal.
Hy vertel ook dat hy deur voormalige werknemers verskeie keer gedreig is, en vermoed dat hy moontlik geteiken word.
“Ek het al doodsdreigemente ontvang,” het hy gesê.
Die inbraak volg op die diefstal van twee bromponies op 6 Mei, ook by mnr. Strydom.
Die twee bromponies behoort aan sy huurders, en is 02:00 die oggend deur ’n groep verdagtes by die hek uitgestoot.
• Mnr Francois Marais het aan die Middelburg Observer bevestig dat ’n dief om 17:51 Dinsdag, tien minute nadat hy by die huis gestop het, sy seun se fiets gesteel het.
Die motorhuis was nog oop, omdat hy skaars van die werk af teruggekeer het, en die dief het doodluiters ingestap en die fiets gesteel.
“Hulle spring van agter af deur die erwe,” het mnr. Marais gesê.
• ’n Saak van diefstal is oopgemaak en die fiets is R10 000 werd.
• Die beeldmateriaal, wat deur mnr. Strydom verskaf is, wys duidelik die verdagte gesig, maar kan dit nie gebruik word nie, omdat ’n saak nie geopen is nie. Dit is egter in die Middelburg Observer se besit, en is nagegaan.
Die verdagte in beide gevalle het dieselfde kleredrag aangehad.
@middelburgobserver Thief brazenly walks into garage to steal a bicycle. #Middelburg #crime #theft
Lees ook:
KYK: Motofietsbende slaan in Impalastraat toe, steel twee bromponies