News

Beskuldigdes in bagasiebak moordkomplot weer in hof

Die bagasiebak moordsaak het vanoggend weer vlugtig voorgekom.

Die vier beskuldigdes in die moordsaak waar Danie Maritz in Middelburg vermoor en sy oorskot later in die bagasiebak van ’n voertuig gelaai en aan die brand gesteek is, het vandag weer verskyn.

Alex Grobler en Angie Appelgryn het tydens vorige verskynings reeds borg gekry, omdat hulle nie direk met die moord verbind word nie.

Alex Grobler.
Angie Appelgryn.

Borg is geweier vir Jan Jordaan. Pretorius het aanvanklik borg van die hand gewys.

Jan Jordaan.
Kobus Pretorius.

Tydens hul vorige verskyning op 4 Junie het Pretorius aangedui dat hy wil aansoek doen vir borg en is die saak uitgestel na vandag vir formele borgaansoek.
Die dossier was egter nie by die hof nie en is die saak weer uitgestel.

Die vierstuks se sake word nou op hierdie tydstip geskei.

Grobler, Appelgryn en Jordaan se saak is uitgestel na 17 Julie vir instruksies vanaf die direkteur van openbare vervolging.

Appelgryn se regsverteenwoordiger het ook aangedui dat sy moontlik na Pretoria gaan verhuis om daar te gaan werk. Daar is egter gesê dat die hof ingelig sal word, sodra dit bevestig is dat sy Pretoria toe sal gaan en sy dan aansoek sal doen om die area om Middelburg en eMalahleni te verlaat.

Pretorius se borgaansoek sal weer op 19 Julie aangehoor word, asook vir bevestiging van ’n vaste adres en of hy toestemming het om by die betrokke adres te bly.

• Danie is tussen die nag van 15 November en die vroeë oggendure van 16 November by ’n skrootmetaal besigheid in Middelburg vermoor.

Sy oorskot is daarna in die bagasiebak van Appelgryn se voertuig gelaai en daarmee gery tot naby ’n myn in Clewer, waar dit aan die brand gesteek is.

Danie Maritz se oorskot is in die bagasiebak gevind nadat die voertuig uitgebrand het.

• Grobler, Appelgryn en Jordaan is kort na die moord gearresteer en Pretorius het homself, nadat die ander drie se borgverhoor reeds afgehandel is, aan die polisie oorhandig.

Pretorius en Jordaan word van die moord beskuldig en die klagtes van regsverydeling teen Grobler en Appelgryn is rakende die gebeure waar Danie se oorskot verwyder is van die toneel en die voertuig, met hom nog daarin, aan die brand gesteek is.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2023/11/23/lyk-in-bagasiebak-beskuldigdes-is-harteloos-en-gevaarlik/

Check Also
Close
Back to top button