News

Twee vas na diefstal by huis

Die huis staan leeg.

Twee verdagtes wat vasgtrek is by ’n huis in Gholfsig na ’n inbraak, is ’n week later op dieselfde dag wat hulle borg gekry het, wéér by die huis gekry.

Die tweede keer wat hulle op heterdaad betrap is by die huis, moes die reaksiebeamptes van Mid Alarms hulle ongelukkig laat gaan, want die huiseienaar was nie in Middelburg nie en kon ’n saak nie geopen word nie.

Johan Oberholzer (operasionele bestuurder, Mid Alarms) meld dat die reaksielede op 27 Mei ’n alarm gekry het by ’n huis waar daar tans opknappingswerk gedoen word voordat dit verkoop word.

Die huis staan leeg.

Reaksielid Jan Spies het hom na die huis gehaas, waar hy met sy aankoms dadelik gesien het dat die venster gebreek is.

Gino Morgan.

Hy het vir ondersteuning ingeroep, omdat die verdagtes moontlik nog op die perseel was en het Richard Bredenhan by hom aangesluit.

Hulle het die hele erf deurgegaan, maar die verdagtes was reeds weg.

Die reaksielede het op en af in die straat gery en het mense wat op die gholfbaan was, vir hulle gesê dat hulle twee verdagtes gesien het wat by die erf uitkom.

’n Ent laer af in die straat het hulle twee mans raakgeloop en hulle ondervra. In die mans se besit is twee gordyne en vier blikke verf gekry.

“Hulle het gesê hulle slaap onder die gordyne, maar dit was baie netjies en beslis nie gebruik nie. Ons het die foto van die gordyne vir die huiseienaar gestuur,

wat dadelik die gordyne herken het. Die blikke verf het ook uit hul motorhuis uit gekom.”

Die twee verdagtes is gearresteer en het Gino Morgan en Ruan Geldenhuys die volgende dag in die Middelburg Landdroshof verskyn op klagtes van besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Hulle was in aanhouding tot hul volgende verskyning verlede week vir formele borgaansoek, waartydens beide borg gekry het.

Op die dag wat hulle borg gekry het, het Mid Alarms weer ’n alarm by die huis gekry.

Reaksielid CP Kotze is na die huis, waar hy een van die mans buite die erf gekry het. “Hy is in die erf gesien deur bure, maar omdat hy niks by hom gehad het nie, kon ons hom nie arrsteer nie.”

Die ander verdagte is in ’n buitetoilet gekry, waar hy homself van binne af toegesluit het. Hy het egter die sleutel aan die buitekant gelos en kon die reaksielede die deur oopsluit.

“Die verdagte in die toilet het ook niks by hom gehad nie. Omdat die eienaars nie in Middelburg bly nie, moes ons albei verdagtes laat gaan, aangesien hulle nie hier was om sake teen hulle te maak vir betreding nie.”

• Die saak is uitgestel na ’n latere datum vir verdere ondersoek.

• Dit is ’n algemene klagte in Middelburg dat inbrekers en betreders huise teiken wat leegstaan vir opknappingswerk. In die meeste gevalle word kragkabels en koperpype by dié huise gesteel.

Check Also
Close
Back to top button