News

Ouma Joyce dans 83 in

Dié oumatjie wys dat jy selfs op ’n rype ouderdom nog ’n vrolike, aktiewe lewe kan lei!

Ons dorp se bekendste ouma, Joyce Watkins, het haar 83ste verjaardag ingedans saam met familie en al haar bure.

Soos sovele kere vantevore, sê sy laggend: “Die lewe is ’n lied!”

Ouma Joyce het haar verjaardag terdeë geniet.

Die grootste deel van ons gemeenskap ken ouma Joyce, wat nou al ’n huishoudelike naam geword het nadat derduisende mense op sosiale media gesien het hoe sy by Janmy Engen Diensstasie dans.

Die video waar sy by die vulstasie gedans het op die maat van ‘Roer Jou Voete’ tydens ’n kompetisie wat daar gehou is, is so wyd gedeel, dat sy op Kosmos Stereo daaroor moes gesels en ’n draai by Radio Jacaranda gemaak het.

Lees meer hier:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2024/02/05/ouma-se-voete-jeuk-en-toe-jive-die-land-aan-die-brand/

Sy dans al van kindsbeen af en het onlangs vertel dat sy haar lyf as jong vrou soepel gehou het deur aan pretlope deel te neem en ’n 15-myler kafgedraf het.

In 2023 het sy op Food Lover’s Market se verjaardag en hierdie jaar op Valentynsdag almal laat skaterlag toe sy met oulike uitrustings daar gaan kuier en gedans het.

Twee jaar gelede het sy al die koerant gehaal toe sy kersliggies opgesit het by hul huis en saam met die kinders in die buurt gedans en vir talle kinders lekkergoedpakkies uitgedeel het.

In die somermaande maak sy bottels vol aanmaakkoeldrank wat sy vries en uitdeel vir kinders en ander mense wat in die straat verbyloop.

Paasnaweek het sy as ’n vrolike hasie saam met die kinders by Amora Voëlpark gedans en op Moedersdag en Vadersdag het sy kaartjies en geskenkies uitgedeel.

Lees meer hier:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2024/04/05/wenbabas-en-paashaas-by-amora/

Boonop rits sy saam met haar dogter, die wêreld vol om vir arm kinders en volwassenes klere uit te deel, wat hulle by donateurs kry.

Om haar pensioengeldjies aan te vul, verkoop sy spotgoedkoop juwele en swartsakke, wat sy laggend (en soms met ’n lawwe danspassie daarby) vir haar kliënte aflewer.

In al die pret en dankbaarheid om so ’n hoë ouderdom te kon behaal, herinner haar aanhoudende hoesie ’n mens daaraan dat sy keelkanker het. Sy is twee jaar gelede gediagnoseer en is dit reeds in ’n gevorderde stadium.

Ouma Joyce het besluit om nie verder te gaan vir die behandeling nie en elke dag te leef asof dit haar laaste is.

Sy sê die Here gee haar krag en genade om daagliks aan te gaan.

Tydens ’n onlangse onderhoud het sy dit so mooi gestel: “Dit is lekker om méns te wees. Staan vandag op, sê dankie vir die Here dat jy hier is, wees positief en leef vir vandag, want more mag dalk glad nie kom nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button