Verkoolde oorskot van persoon in gebrande veld gevind
Die verkoolde oorskot van 'n persoon is vanmiddag in die veld agter Dennesig gevind.
Net ses dae nadat ‘n man se lyk in die bosse by Tarries Fietsrybaan gekry is, is die oorskot van ‘n persoon, wat heeltemal verkool het, in die veld oppad na die Dennesig asgate gevind.
Lees ook: Liggaam in Tarries-park uitgeken, familie versoek privaatheid
Die oorskot, wat baie klein van postuur is, het in die veld gelê waar daar die afgelope week ‘n veldbrand gewoed het.
Sowat 10 treë van waar die die oorskot gevind is deur twee voetgangers, is daar ‘n boom met oorhangtakke, wat nie deur die brand verwoes is nie.
Onder die takke is daar ‘n skerm (waarskynlik vir beskerming teen die koue), asook ‘n matras en ander los persoonlike artikeks, wat waarskynlik aan ‘n hawelose persoon behoort.
Arthur Hill (Dagpatrollie) was ook op die toneel en het opgemerk dat die persoon baie klein van postuur is. Hy het ook gesê dat dit vir hom vreemd is dat die persoon heeltemal verkool het, maar dat die stukkie gras reg rondom hom nie gebrand het nie.
Die polisie se plaaslike rekordsentrum het reeds foto’s op die toneel geneem en is die forensiese span ontbied om die oorskot te kom haal.
- Dit is op hierdie stadium nog onbekend of dit ‘n man of ‘n vrou se oorskot is wat gekry is.



